“In my lewe het ek nooit gedink dit sou moontlik wees nie. Ek het in daardie stadium net probeer om positief te bly en probeer vasklou aan my geloof. Ek wou net elke keer deur die volgende dag kom.” Lize, dogter van die bekende aktrise Wilna Snyman, het in Junie erg gebrand toe haar etanolverwarmer in vlamme opgegaan het.

Sy het gedink die verwarmer is reeds uitgebrand maar toe sy etanol bygooi om die verwarmer aan te steek, het ’n klein vlammetjie diep in die verwarmer gemaak dat vuur teen haar opskiet.

Sy moes ná die ongeluk 35 dae in die Tygerberghospitaal in Bellville, Kaapstad deurbring en talle operasies ondergaan.

“Ek sal in die nuwe jaar vir my laaste check-up gaan,” vertel dié kunstenaar van Hermanus terwyl sy besig is om voor te berei vir haar eerste kunsuitstalling sedert die ongeluk. Die uitstalling, getiteld Mythical Journeys, word vanaf Saterdag in Hermanus saam met drie ander kunstenaars gehou.

“Ek het so 10 skilderye in die uitstalling.”

Volgens Lize is haar werke vir dié uitstalling ook gevul met simboliek ná haar ervaring vroeër vanjaar en is dit nie die tipiese seetonele waarvoor sy so bekend is nie.

Lize sê dit gaan ook nou beter met haar ma sedert sy (Lize) weer by die huis en aan die werk is.

"Sy was erg getraumatiseer maar dit gaan nou weer baie beter met haar. Alzheimers se siekte gaan nooit weg nie, maar sy doen nou weer baie goed. Die ding het haar maar geruk."

Tog is Lize net te dankbaar dat sy gesond geword het.

“’n Mens kan nie eers die wond in my gesig sien nie. My gesig lyk baie goed. My nek en oor is die enigste plekke wat nog ’n bietjie sleg lyk,” sê sy.

“Dit vel is nog bietjie rooi en opgehewe by my ken.”

Haar linkerhand het ook baie gebrand tydens die voorval, en hoewel dit nog bietjie seer is, meen Lize dit het tot dusver baie goed herstel.

Sy dra nog spesiale verbande om haar nek en hand in die nag, en soms dra sy dit ook deur die dag. Spesiale pleisters keer ook dat die vel wat nog nie heeltemal herstel is nie, nie verbruin nie.

“Die brand voel eintlik al so ver weg. En eintlik is dit nie eers so lank gelede nie,” sê sy.

“Die enigste ding wat my soms vang is dat ek vir drie maande nie kon werk nie.”

Dis juis die afgelope paar maande wat Lize sou gewerk het om genoeg skilderye vir die besige Desembermaand gereed te hê.

“So ek het net nie so baie voorraad nie. Die mense sal maar bestellings moet plaas,” sê sy.

Instussen hou Lize haar ook besig met die beplanning van ’n aanlyn veiling ten bate van die Tygerberghospitaal se brandeenheid.

“Omtrent 50 kunstenaars gaan van hul werke skenk,” sê sy. Volgens Lize hoop sy om die veiling in Mei 2017 te hou.