Die egpaar was in Mei vanjaar in die nuus te midde van bewerings dat Ozzy ontrou was. Sharon het later bevestig sy het die rocker uit hul huis geskop voor sy besluit het om self te trek.

Destyds het die musiekbestuurder en TV-persoonlikheid erken sy is onseker of sy moet skei van haar man, met wie sy al 33 jaar getroud is.

“Ek het eerlikwaar in hierdie stadium, vandag, geen idee wat ek met die res van my lewe gaan doen nie” het Sharon tydens ’n emosionele verskyning op haar Amerikaanse program The Talk erken.

Die sterre het luidens gerugte in onlangse weke hul verbrokkelde verhouding probeer herstel. En te oordeel na die foto’s wat die afgelope naweek van die twee geneem is, lyk dit asof hulle hul huwelik nog ’n kans gee. Hulle is gekiek terwyl hulle ’n stil uitstappie in Los Angeles geniet en Sharon (63) breed geglimlag het. Dis die eerste keer dat die egpaar in ’n nie-beroepshoedanigheid saam buite gesien is in die weke nadat hul huweliksprobleme bekend geword het.
Sharon is ook gesien glimlag toe sy tydens die Download-fees in Junie in Brittanje na Ozzy en sy Black Sabbath-groep op die verhoog kyk.
Die jongste foto’s, wat TMZ.com bekom het, het aan die lig gekom nadat bronne onthul het sessies terapie het Ozzy en Sharon hul romanse help red. “Hulle het weer verlief geraak,” het die bron aan UsMagazine.com gesê. Nog ’n bron het voorheen aan die Britse tydskrif Closer gesê Sharon probeer haar man vergewe sodat hulle die voorval agter die rug kan sit.

“Sharon is kwaad en seergemaak, maar Ozzy smeek haar om hom nie te los nie en die gesin is aan die verbrokkel,” het die bron gesê. “Hulle praat daagliks en sy dink steeds daar is dalk ’n kans dat hulle die huwelik kan red, maar sy het vir vriende gesê dit is ’n voortdurende stryd.”

Sharon en Ozzy (67) is in 1982 getroud. Hulle het drie volwasse kinders.

© Cover Media