Hulle woon sedert 2008 in Nieu-Seeland, die troebadoer Jurie Els en die voormalige Olimpiese hoogspringer Hestrie (Cloete), met wie hy getroud is.

Hul kinders, Chrizette (10) en Jason (8), floreer daar anderkant in Silverdale en praat selfs goed Afrikaans danksy al die Suid-Afrikaners wat daar gevestig is, het Jurie al gespog.

“Terug by die huis ná twee weke op 'n cruise Melbourne toe en rondom NS op die Golden Princess . . ,” vertel hy op sy Facebook-blad. “Voorspoed vir almal vir 2017 en dankie vir al die goeie wense met Kersfees en die nuwe jaar!”

Daar is foto’s van die luukse skip en ook van sy kinders en ’n stralende Hestrie. "Jul dogter en seun is pragtig,” merk ’n aanhanger, Jana Barnardo, op. Ander meen Jason trek op Jurie en Chrizette is haar ma se ewebeeld.

“Daai tekkies voorspel net een ding: atletiek!” merk Ernestine Frick op by die foto van die lenige rooikop-tiener op die dek van die skip.

Jurie vertel opgewonde van sy nuwe CD, 20 Goue Treffers, wat nou beskikbaar is. “Ek sien Musica het hierdie een op hul rakke! As jy dit nie op die rak kry nie, vra by die toonbank, want dis op hulle stelsel en hulle kan dit vinnig vir jou van ’n ander tak af laat kom."

Hy het op 13 Desember teruggekeer ná ’n lang en uitputtende finale SA toer. “Ek sal julle NOOIT vergeet nie!

“My klank(toerusting) is verkoop en ek hoop die nuwe eienaar gaan baie goed daarmee vaar," skryf hy op Facebook.

“Daardie klanksisteem het hard gewerk en bygedra daartoe dat meer as 500 000 Jurie Els-CD's die afgelope 23 jaar in baie Suid-Afrikaners se huis beland het!”