Klein Zardi het net 1,2 kg geweeg toe sy op 14 April op 33 weke gebore is. Sy moes eintlik eers op 29 Mei haar opwagting gemaak het.

Lees ook: Te skattig! Geliefde Afrikaanse sanger deel eindelik foto’s van vroeggebore kleinding

Tilla Enslin, Gerhard se bestuurder, sê Zardi se suigaksie as sy moet drink was aanvanklik nie soos dit moet wees nie. ’n Baba se suigaksie is eers op 36 weke ontwikkel. Sy is nou byna vyf weke oud.

Die babameisietjie het 24 uur ná haar geboorte nie meer suurstof ontvang nie. “Haar longe is oop en elasties.”

Tilla sê as Zardi nie kan suig nie, kan sy nie drink nie en sy moet ’n sekere hoeveelheid melk absorbeer.

Zelri moes aanvanklik borsvoed omdat Zardi se dermpies nie gewone formulemelk kon hanteer nie.

“Zelri het nie baie melk nie. Partykeer het sy 10 ml gegee. As Zardi 1 ml en 5 ml gedrink het, was dit aanvaarbaar, maar sy kry nou die afgelope twee dae formulemelk.

“Haar ogies, hart en brein is getoets en dit is alles reg. In die stadium toets hulle haar oortjies,” het Tilla gesê.

zelri

Sy sê Zelri “doen die 24-uur ding” wat die baba betref. “Sy wil ook sien hoe sy vorder.”

Gerhard het op 8 Mei foto’s op Facebook gedeel waarby hy geskryf het hy sit met trane in sy oë wanneer hy “probeer” om deur al die duisende boodskappe te lees van sy ondersteuners, familie en vriende, “selfs familie wat ek nie geweet het ek het nie – hehe.

“Dankie vir elkeen van julle wat vir ons bid en ons bystaan! Ons dogtertjie, Zardi, is reeds so geseën en ons kan nie wag dat julle haar ontmoet waar ons ook al gaan toer en sing nie.”

Hy het die dokter bedank, wat “met goeie voorsorgmaatreëls my vrou en kind se lewe gered het deurdat God hom lei”.

Hy het ’n paar ander mense bedank voor hy afgesluit het met: “Laastens -- dankie aan ons Hemelse Vader dat ons dogtertjie, Zardi, se geboorte nie net ’n seën vir ons is nie, maar sekerlik ook die grootste getuienis van God se krag, genade, liefde en almagtigheid in ons lewe.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Meisie smeek om na selfdoodkliniek geneem te word elf jaar ná geheimsinnige goggabyt

Die smeulende Justin Serrao se weergawe van Kinders van die Wind sleur luisteraars mee

Foto van ’n pa wat sy siek seun troos word herhaaldelik van Facebook verwyder

Pieter Koen en Cordelia wil harte verower met dié liedjie

Sinead O’Connor ongedeerd gevind ná polisiesoektog