Die pasgetroudes Riaan en Vasti Manser is gewoond aan adrenalien en avontuur. In 2003 het Riaan 37 000 km afgelê toe hy om Afrika gevaar en by 34 lande aangedoen het. In 2014 het hy besluit om Vasti saam te neem op een van sy avonture. Vasti wou bitter graag die Groot Appel besoek, en die twee het toe met ’n roeiboot van Marokko na New York gevaar. Die tog het ses maande geduur. Die paartjie het vanjaar eindelik besluit om af te haak. Niemand was verras deur hul wittebroodplanne nie: Vasti en Riaan het besluit om weer die roeiboot nader te trek en hul lewe as getroudes op die sandstrande van Hawaii te begin.

Die lewensgevaarlike tog van meer as 20 000 km op die oop see sal na verwagting twee maande duur – heelwat langer as die deursneewittebrood. Die Mansers is op 15 Julie uit Kalifornië weg, maar het sommer vroeg al ’n terugslag beleef toe die boot omdop. Riaan het ingestem om weekliks hul wedervarings met ons te deel. Op Wittebrood #1

“Dit is g’n wittebrood hierdie nie.”

Die botsing was verskriklik. Bloed stroom teen my gesig en nek af. Die warmte is amper troostend, maar daardie reuk is te grieselig vir woorde.

Die golf het ons aan die stuurboordkant getref; ons het sydelings tussen twee deinings van 4 m geval en is wreed wakkergemaak. Dis 04:30 in die yskoue noordoostelike deel van die Stille Oseaan.

Sekondes vantevore was ons nog vas aan die slaap in die kajuit van ons piepklein roeibootjie op die see.

Ek en Vasti het langs mekaar gelê, met ons klam slaapsakke oor ons bibberende lywe getrek.

Ek slaap altyd aan die kant waarvandaan die golwe kom en is onmiddellik opgelig en teen die oorkantste kant van die kajuit geslinger. My kop het die brandblusser getref en toe het my liggaam, wat teen hierdie tyd feitlik gewigloos was, op ’n verbysterde Vasti geval.

Nie een van ons het geweet wat aangaan nie; ons het net geweet dit is erg. Water stroom deur die luik by ons kajuit in en ons staan albei op die kajuit se dak.

Ons is onderstebo.

Ek kyk deur die glasdeur van die luik uit op ’n toneel soortgelyk aan dit wat die Twee Oseane-akwarium sy besoekers bied. Ons is onder die water, en in die lig aan die mas kan ’n mens die buitekant van die boot duidelik sien.

Miljoen gedagtes maal deur my kop: Het Vasti seergekry toe ek op haar val? Wat was daardie kraakgeluid toe ek die kant tref? Gaan ons verdrink?

“Staan op en help my om die boot weer regop te kry! Maak gou! Maak gou!” is die eerste woorde wat ek aan Vasti skree. Sy is steeds verdwaas en doodstil.

Twee probeerslae later is die boot weer regop. Die geluid van al die goed in die kajuit wat terugval op hul plek, is amper vertroostend; die geklots van water by ons voete beslis nie.

Ek skree vir Vasti om alles wat sy kan te probeer red en al die swaar goed weg te pak. Ek staan op en gaan buitentoe om die roer te draai sodat ons nie reg in die deining invaar nie.

Dan ruik ek dit weer: Daardie intense, ryk geur van vars bloed is diep in my longe en in die bitter smaak in my mond. Ek leun oor die kleiner agterluik om die roer te verstel en die bloed stroom uit my kop.

“Ek sal oukei wees,” dink ek. “As dit werklik ernstig was, sou ek nie hier buite in die storm kon wees nie, of hoe?”

Ek gaan terug kajuit toe, waar Vasti koorsagtig probeer red wat moontlik gered kan word. Handdoeke en slaapsakke het die meeste van die water geabsorbeer.

Sy is geskok en in trane. Ek gaan sit, verseël die luik en kyk na haar. Ek voel skuldig; ek wou nie hê sy moet in enige gevaar verkeer nie. Veral nie hierdie soort gevaar nie. Vasti het teen die tyd selfs harder begin huil, my hand geneem en gevra of ek oukei is. “Jy is vol bloed. Ons moet die bloeding stop. Hoe voel jy? Kom hier.” Dit was die tweede aand van Op Wittebrood en ’n wekroep vir ons albei. Ons is albei oukei, ’n 7 cm-wond het veroorsaak dat ek met ’n ander haarstyl spog, die elektroniese stelsel van die boot lyk in orde en die buitekant van die brandblusser is met eerbied met ’n sagte omhulsel versier. Dit is ons wittebrood, maar dit is ook nie ’n wittebrood nie. Stuur asseblief boodskappe deur ons direkte opspoortoestel via ons webtuiste, en bo alles, moenie ophou om ons te herinner Hawaii is ons wittebroodsbestemming nie.