Die voormalige paartjie het tjoepstil gebly oor hul verhouding sedert hulle in Junie aangekondig het hulle gaan skei, maar Jennifer het onlangs die stilte verbreek tydens ’n openhartige onderhoud met die tydskrif Vanity Fair.

Gedurende die persoonlike geselsie het sy gerugte die nek ingeslaan waarin te kenne gegee is dat die twee se 10 jaar oue huwelik deur ’n verhouding tussen Ben en Christine Ouzounian, hul 28-jarige kinderoppasser, gekelder is.

Lees ook: Jennifer Garner ‘wil kinders gelukkig hou’ ná skeiding

“Laat ek julle nou net iets vertel: Ons was reeds maande uitmekaar toe ek van die kinderoppasser hoor,” het die ma van drie aan Vanity Fair gesê. “Sy het niks te doen gehad met ons besluit om te skei nie. Sy was nie ’n element in die ooreenkoms nie.”

Jennifer het voortgegaan deur te erken Ben sal altyd “die liefde van my lewe” bly en sy het die feit beklemtoon dat sy geen berou het omdat sy afgehaak het met haar medester van die 2003-rolprent Daredevil nie. Sy het die feit betreur dat hy “bloot ’n moeilike kêrel” is.

Ben het sy mening oor die onderhoud met die New York Times gedeel en hy het onthul hy is vooraf ingelig oor die uitreiking van die onderhoud. Hy het ook erken hy verstaan hoekom Jennifer die hele saak in een groot gesprek wou opklaar.

“Sy wou dit graag bespreek, dit uitkry en afhandel,” het hy verduidelik. “Sodat sy kon sê, ‘Kyk, ek het reeds daaroor gepraat – ek wil dit nie weer doen nie.’ ”

Dit beteken egter nie Ben vind dit maklik om sy hoëprofiel-liefdesverbrokkeling te bespreek nie – volgens die Times was hy ‘ter wille van sy drie kinders’ teësinnig om in die openbaar daaroor te praat.

Lees ook: Jennifer Garner gesels oor ouerskap in die kollig

“Omdat dit iewers in die groot miasma van gemors op die internet op rekord geplaas sal word,” het Ben geredeneer.

Op die ou end het hy die verhouding tussen die ekse vlugtig aangeroer deur te beklemtoon hulle werk steeds as ’n span saam om hul kinders groot te maak.

“Jen is fantasties. Sy is ’n wonderlike mens,” het die 43-jarige Ben verklaar. “Ons is op ’n baie goeie voet. Ek het haar nog vanoggend gesien, dus is dit die werklikheid waarin ek lewe.”

Luidens berigte woon die vervreemde paartjie steeds saam, aangesien Ben in ’n gastehuis op die terrein van die sterre se woning bly, ten einde naby hul kinders, Violet (10), Seraphina (7) en Samuel (4), te wees.

© Cover Media

Lees ook op Huisgenoot.com:

Avonturier Riaan Manser se Vasti beleef teëspoed tydens Cape Epic

Almal se gunsteling-‘prinses’ binnekort weer op die silwerdoek

Inge Lotz-moord spook elf jaar later nog

Oefening douvoordag hou jou viets

Wanneer Zephany reg is, is ek hier vir haar – Celeste Nurse

Wildkyk van agter jou lessenaar? Nou kan jy!

Taylor Swift en Calvin Harris al te danig op tropiese eiland