Toe Leroy “Blast” Bill Black (55) van New Jersey onlangs sterf, het die huldeblyke in die Press of Atlantic City behoorlik die koppe laat draai. Want sowel sy vrou as sy “langtermyn-liefie” het elkeen hul eie boodskap aan hom gelaat. Op dieselfde bladsy, met dieselfde foto.

In haar huldeblyk verwys Leroy se vrou, Bearetta, na sy ouers en sy seun, Jazz Black. Sy noem ook dat hy die pa van Malcolm en Josiah Harrison Fitzpatrick was.

Reg onder hierdie huldeblyk, met identies dieselfde foto van Leroy, beskryf Princess Hall haar as sy “langtermyn-liefie”.

Sy noem dat Leroy tuis gesterf het, maar dis onseker of sy by haar huis of Leroy se vrou se huis bedoel het.

Princess vermy enige verwysing na Leroy se wettige vrou, maar noem wel dat hy die pa van Jazz Black was. Sy skryf sy dood toe aan longkanker as gevolg van langdurige blootstelling aan veselglas.

Luidens berigte is die twee huldeblyke apart geplaas soos deur Bearetta en Princess versoek.

“Sy vrou wou dit op een manier doen en sy minnares op ’n ander manier,” het iemand van die Greenidge-begrafnisdienste glo gesê.

Die een ding waaroor die twee wel nie verskil het nie, was die feit dat Leroy “Blast” Black wel op 6 Augustus begrawe sou word. Aparte begrafnisdienste is nie versoek nie.

Bronne: nj.com, nypost.com, phillyvoice.com