Hulle was jonk en verlief – maar toe sterf sy tragies tydens ’n eilandvakansie, na bewering weens ’n hou in die gesig van haar stiefma.

En nou, twee maande later, het Tyron Bothma ’n tatoeëermerk op sy arm laat aanbring as huldeblyk aan sy verlore tienerliefde.

KYK FOTO’S: Hartverskeurende toneel by Mundolene Vosloo se begrafnis ná Mauritius-tragedie

Die tatoeëermerk spel Mundolene se geboortedatum, 24 Februarie 1999, in die Romeinse syfers XXIV.II.XCI uit, met wat lyk na sonstrale wat daaruit skyn.

Die 21-jarige Tyron het ’n foto van die tatoeëermerk op sy bo-arm op sy Facebook-blad geplaas. Die foto het talle “likes” gekry, asook kommentare van vriende en familie.

“Die sonstrale is vir Tyron simbolies van hoe Mundolene sy lewe geraak het. Mundolene was sy sonstraal,” het Tyron se ma, Vanessa van Niekerk, telefonies aan Huisgenoot vertel.

Tyron, van Springs, was kort voor ons oproep in ’n motorongeluk, maar is net lig beseer.

“Almal verlang vreeslik na Mundolene,” het Vanessa gesê en toe in trane uitgebars. “Tyron is kwaad oor haar dood en dis moeilik vir hom om te aanvaar”.

Huisgenoot het vroeër berig oor Mundolene se dood op 5 Okober tydens ’n gesinsvakansie op Mauritius. Haar stiefma, Marietjie Vosloo (33), het haar na bewering geslaan nadat hulle stry gekry het, waarna Mundolene gevel en bloeding op die brein gekry het. Sy is later in ’n hospitaal op die eiland oorlede.

Marietjie is deur die polisie in Maurtitius in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding in die eilandstaat. Sy is nog nie formeel aangekla nie.

In ’n kort videogreep wat Mundolene op haar selfoon met die vorige skoolvakansie by sy huis in Margate in KwaZulu-Natal vasgevang het, deel sy en haar pa ’n spesiale oomblik.