Die belang van proteïen

Proteïen is belangrik vir ons spiere, organe en vel. Die proteïen in ons dieet help selle ook herstel en vorm. Dit is veral belangrik vir kinders omdat hulle vinnig groei en ontwikkel.

Proteïen bestaan uit aminosure. Die liggaam benodig 22 aminosure, maar kan net 13 van hulle vervaardig. Die ander nege moet van kos kom en staan bekend as noodsaaklike aminosure.

Wanneer jou baba kos eet wat proteïen bevat, word dit in hul maag verteer en deur die spysverteringskanaal geabsorbeer.

Die aminosure waarin dit opgebreek word, word in verskeie funksies in die liggaam gebruik – in die vel, hare, bene, spiere en omtrent al die weefsel. Die liggaam gebruik dit ook om hemoglobien te vervaardig, wat suurstof in die bloed vervoer.

Hoeveel proteïen is nodig?

Sodra jou baba vaste kos begin een en minder melk begin drink, kan jy ’n gebalanseerde dieet aanbied wat peulgewasse, graankos, groente, eiers en suiwel insluit. Omdat ’n baba se liggaam nie proteïen stoor nie, het hulle elke dag ’n bietjie daarvan nodig. Dus moet hulle verkieslik elke dag ’n bietjie kos kry wat proteïen bevat.

’n Baba tussen die ouderdom van ses maande en ’n jaar het daagliks sowat 15 g proteïen nodig en kleuters tussen 13 g en 19 g. Een bron van proteïen by elke maaltyd behoort genoeg te wees.

Bronne van proteïen

Die onderstaande is almal bronne van volledige proteïen. Let asseblief daarop dat nie al die kossoorte geskik vir jou baba in hul eerste jaar gaan wees nie; spreek jou pediater of iemand by jou plaaslike kliniek.

  • vleis (veral beesvleis)
  • pluimvee
  • quinoa
  • soja
  • eiers
  • suiwelprodukte (melk, kaas, maaskaas, jogurt)
  • bokwiet
  • amarant
  • spirulina
  • vis
  • peulgewasse

Ander bronne van proteïen wat gekombineer moet word om al die nodige aminosure te verskaf, is:

  • boontjies
  • dwerg-ertjies
  • droë ertjies
  • hawermout
  • mieliemeel
  • rys
  • rog
  • koring
  • pasta

Maaltyd-idees

  • Rys en boontjies
  • Groente-en-tofu-roerbraai met pasta
  • Dwerg-ertjiesop met volkoringbrood
  • Fyn boontjies met ’n volkoring-pita of -tortilla.

Jy kan onvolledige proteïene ook met suiwelprodukte kombineer

  • Jogurt met koringkiem
  • Avokado met gaar eiergeel op volkoring-roosterbrood
  • Warm boontjies en rys met gerasperde kaas
  • Hawermout en melk
  • Macaroni en kaas

- Janine Nel

Bronne: livestrong.com, superhealthykids.com, about.com, buildhealthykids.com