Die ma van die babadogter wat glo verlede Vrydag tydens ’n kaping ontvoer is, is Woensdagoggend in die Durbanse landdroshof saam met haar minnaar op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Die ma, Sibongile Mbambo (35), en haar minnaar, Phumlani Mbokazi (26), word daarvan verdink dat hulle Mbambo se maand oue dogtertjie, Siwaphiwe, se ontvoering gereël het. Die twee sit glo agter Vrydag se sogenaamde kaping van Mbambo se wit Toyota Yaris.

Die kleuterskoolonderwyseres beweer haar baba was in die motor toe dit by ’n winkelsentrum in Greyville, Durban, gekaap is.

Siwaphiwe is Sondagoggend lewend en ongedeerd saam met Mbokazi in ’n motor gevind. ’n Vriendin was glo saam met hom in die motor, maar is nie aangekla nie.

Mbokazi se prokureur, Andile Dakela, het vroeër dié week gesê sy kliënt was in ’n verhouding met Mbambo en glo baba Siwaphiwe is sy kind.

Die saak is Maandag uitgestel sodat DNS-toetse kan bepaal of die baba syne is of dié is van Mbambo se man, Christopher Mbambo. Hy het glo sy vrou se borgtog van R1 000 betaal.

Mbambo en Mbokazi is eers van ontvoering, regsverydeling en bedrog aangekla, maar die aanklag van ontvoering is teruggetrek.

Die baba is in die sorg van maatskaplike werkers geplaas.