Met Evan Spiegel, Bobby Murphy en Reggie Brown se app kan ’n mens multimediaboodskappe skep (“snaps”) wat geredigeer kan word met filters, teks, sketse en spesiale effekte.

Die meeste Snapchat-gebruikers span die app in om komiese foto’s en video’s te skep.

Maar in Indië gebruik Yusuf Omar, die digitale redakteur van die Hindustan Times, die filters vir ’n heel ander en baie ernstige doel.

Hy gebruik die filters om die gesig van slagoffers van seksuele misdade te beskerm wanneer hy onderhoude met hulle voer. Terwyl die filters hul gesig vermom, bly hul oë en gesigsuitdrukking sigbaar.

Dit help die slagoffers om veilig te voel en hulle kan hul verhaal vertel sonder vrees dat hulle uitgeken sal word.

Elke slagoffer kan haar eie filter kies. Dit dra daartoe by dat hulle in beheer van die situasie voel.

Yusuf sê dat die vroue daarvan hou om die gefilterde materiaal te sien omdat hulle nie heeltemal van hom afhanklik is om hul identiteit geheim te hou nie.

Een van die slagoffers met wie Yusuf ’n onderhoud gevoer het, sê sy was vyf toe iemand haar ontvoer en in ’n kamer toesluit.

“Hulle het my gemartel en my daar gevange gehou,” het sy vertel.

Seksuele misdade in Indië

1. In Indië is dit onwettig om slagoffers van seksuele misbruik te identifiseer.

2. Na bewering word 27,5 miljoen vroue in die land deur seksuele misbruik geraak en na raming vind ’n verkragting elke 22 minute plaas.

3. Jong meisies tussen 14 en 18 jaar oud is veral kwesbaar, veral wanneer hulle nie meer in die skool is nie. Liggaamlike geweld tuis, verkragting deur mense bekend aan hulle en gebrekkige wetstoepassing is maar net ’n paar van die vernaamste bedreigings waarvoor hulle te staan kom.

4. In 2014 is amper driekwart van aangeklaagde verkragters vrygespreek. Meer as 85 persent wat gepoog het om iemand te verkrag, het ook skotvry daarvan afgekom.

5. Volgens infochange word sowat 500 000 kinders jaarliks in seksslawerny gedwing.

Bronne: bbc.com, hindustantimes.com, newscom.au, infochangeindia.org, ibtimes.com