Ons almal ken die gevoel: Jy moet jou aandag verdeel tussen jou kinders dophou en geld trek, ’n rekening vereffen of ’n groot bedrag geld hanteer. Die Suid-Afrikaanse bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) sê hulle is bekommerd oor die toename in kontantrooftogte oor die afgelope ses maande, party wat tot sterftes gelei het, en gee hul topwenke sodat mense hulself daarteen kan beskerm.

Sabric het namens die bankbedryf ’n veldtog van stapel gestuur wat mense oor hierdie misdaad waarsku. Volgens Sabric gebruik hierdie misdadigers uitkenners wat moet uitkyk vir mense wat in banke groot bedrae geld onttrek; dit gee hulle die geleentheid om toe te slaan. Sodra ’n potensiële slagoffer geïdentifiseer is, dra die uitkenner die inligting aan die mede-misdadigers oor, wat gewoonlik naby die bank wag. Die mede-misdadigers beroof die persoon dan by hul sakeperseel, huis of onderweg na hul bestemming.

"Hierdie misdadigers is genadeloos in hul werking en sal nie huiwer om hul slagoffer se lewe te neem nie; daarom raai ons die publiek aan om bewus te wees hiervan en eerder ander bankmetodes te gebruik as om groot bedra geld by hulle te dra,” sê Sabric se hoof uitvoerende beampte, Kalyani Pillay.

Wenke om jou van kontantrooftogte te beskerm

  • Dra so min kontant moontlik saam met jou.
  • Oorweeg ander opsies vir rekeninge betaal as om groot bedrae geld te onttrek.
  • Oorweeg dit om jou rekeninge elektronies te betaal (gaan hoor by jou bank oor ander beskikbare opsies).
  • Oorweeg die gebruik van mobiele bankdienste, aanlyn oordragte of OTM’s om jou geldsake te behartig.

Wenke vir klein ondernemings:

Werk jy vir of besit jy ’n klein onderneming? Hier is ’n paar nuttige wenke:

  • Wissel die dae en tye af waarop jy jou kontant deponeer.
  • Moet nooit jou besoeke aan die bank verkondig nie, nie eens aan dié na aan jou nie.
  • Hou jou geld weggesteek terwyl jy in die bank in die ry staan.
  • Vermy geldsakke, aktetasse of om jou deposito-kwitansieboek in die openbare oog te hê.
  • Dit is raadsaam om ’n ander nabygeleë tak te identifiseer wat jy kan besoek om te verseker jou bankpatroon word nie maklik herken of vasgestel nie.
  • Oorweeg dit om ’n kontantbestuur-maatskappy as die bedrae wat jy moet deponeer ál groter raak soos jou onderneming groei.
  • Moet liefs nie jou kontrak- of tydelike werkers ten aanskoue van die publiek betaal nie; gebruik eerder loonrekeninge wat jou bank jou kan verskaf.
  • Oorweeg dit om jou kontrak- of tydelike werkers se lone elektronies in hul persoonlike rekening te deponeer.

Wenke vir spaarklubs en stokvelle:

Is jy ’n lid van ’n spaarklub of stokvel? Hier is ’n paar nuttige wenke:

  • Moet liefs nie kontantdeposito’s van klublede se bydraes op hoërisikodae (byvoorbeeld die Maandag ná maandeinde) doen nie.
  • Maak seker die persoon wat bydraes deponeer of onttrek word deur ’n ander lid vergesel.
  • ’n Stokvel, spaarklub of begrafnisvereniging kan reël dat lede die geld direk in die klub se rekening deponeer, pleks dat hulle die kontant self bydra.
  • Reël dat die uitbetaling elektronies in elke lid se persoonlike rekening (of die rekening van hul keuse) oorgedra word.