Jou kind is dalk nie ’n bekende soos Jennifer Lawrence, Kate Upton of Kirstin Dunst nie, maar dit beteken nie hulle kan nie iets leer uit die naakfoto-skandaal wat oor onder andere dié sterre se kop hang nie.

Dit is vandeesweek onthul dat ’n anonieme kuberkraker toegang tot Apple se iCloud-fotobergingsprogram  gekry het en beweer nou hy het toegang tot ’n reeks bekendes se naakfoto’s.

Van die foto’s is aanlyn gedeel, en dien as ’n waarskuwing vir dié wat glo hul foto’s is veilig wanneer dit aanlyn geberg word.

Hier is ’n paar wenke hoe jou kinders hul inhoud kan beskerm:

Hoe het kuberkrakers toegang tot iCloud gekry?

Met iCloud kan gebruikers hul video’s, e-posse, foto’s en ander inhoud aanlyn sien. As jy dit aktiveer, bêre dit die inhoud van jou iPhone, iPad of MacBook en kan jy op enige toestel met internettoegang dit kry. Die gewilde Find my iPhone-funksie, wat jou slimfoon in die geval van diefstal help opspoor, is gebruik om by die foto’s uit te kom, berig die Mail Online.

So kan jou kinders hul foto’s en ander inhoud veilig hou:

-        Gesels daaroor: Praat met jou kinders oor hul aktiwiteite aanlyn; dit gaan die kanale oophou vir gesprekke oor die risiko’s van inhoud aanlyn deel sonder dat hulle voel jy preek.

-        Vra hulle oor hul gunsteling-webtuistes, die bekendes wat hulle volg en wat oor die sosiale media hulle aantrek. Jy gaan ’n beter begrip hê van hul aanlyn gewoontes en gaan goeie, toeganklike raad kan gee.

-        Moedig jou tieners aan om nooit naakfoto’s te neem nie. Verduidelik dat dit nou dalk soos onskuldige pret lyk, maar dit kan in vernederende en skadelike bewyse verander as dit in die verkeerde hande beland.

-        Moedig jou kinders aan om selektief te wees wanneer hulle besluit watter foto’s hulle aanlyn wil deel. Enige foto’s met potensieel skadelike inhoud moet lief op ’n rekenaar tuis gehou word en nie aanlyn of op ’n aanlyn bergingsprogram gehou word nie. As dit nie aanlyn is nie, kan ’n vreemdeling dit nie sien nie – hulle sal jou rekenaar moet steel om dit te kry.

-        Wagwoorde is belangrik: Maak seker al jou lêers het ’n wagwoord, en sluit jou rekenaar op.

-        Pasop vir openbare rekenaars: ’n Vreemdeling wat ná jou ’n rekenaar gebruik, kan maklik sien watter webtuistes jy besoek het, en jou besonderhede gebruik as jy nie reg afgeteken het nie.

Bronne: digital-photo-secrets.com, dailymail.co,uk, forbes.com. nspcc.org.uk