Snywonde

’n Mens kry oppervlakkige en diep snywonde. Laasgenoemde moet liefs deur ’n medikus behandel word.

Jy moet iemand eerder hospitaal toe neem wanneer: 

  • die wond aanhou bloei selfs nadat drukking 20 minute daarop toegepas is;
  • die sny diep is, langer as 6 mm lank is en op die gesig, hande, voete, kop, gewrigte of geslagsdele is;
  • die sny in die mond is en langer as 1,25 cm is;
  • die sny dwarsdeur die wang tot aan die binnekant van die mond strek;
  • ’n snywond op die tong oopgaap;
  • die sny so diep is dat jy vet of been kan sien;
  • daar nog ’n voorwerp, soos ’n stuk glas, skêr of mes in die wond is. Moenie die voorwerp verwyder nie, die sny sal dan net kwaaier bloei;
  • die persoon wat die snywond opgedoen het nog nooit ’n klem-in-die-kaak-inspuiting gehad het nie;
  • die wond nog erg pyn langer as vier ure nadat dit tuis versorg is; en
  • die wond steke nodig het. Dit moet binne agt uur gebeur, want die wond begin dadelik heel en ná ’n lang tyd sal dit moeilik vasgroei.

STAP-VIR-STAP-BEHANDELING: Hoe behandel ek ’n ernstige snywond voorlopig tot die pasiënt mediese hulp kry?

  • Los enige voorwerp wat in die wond is net daar.
  • Was jou hande deeglik.
  • As jy handskoene byderhand het, trek dit aan.
  • Gebruik ’n skoon handdoek, lap of steriele gaasverband en plaas dit direk op die wond.
  • Druk hard op die lap wat op die wond is. Die drukking help die bloeding stop.
  • Terwyl drukking toegepas word, bel die nooddiens om hulp.

Hoe behandel ek geringer snywonde tuis?

  • Was jou hande deeglik.
  • As jy handskoene byderhand het, trek dit aan.
  • Gebruik ’n skoon handdoek, lap of steriele gaasverband en plaas direk op die wond.
  • Druk 20 minute hard op die lap wat op die wond is. Die drukking help die bloeding stop.
  • Was die wond versigtig maar deeglik met warm seepwater.
  • As die wond op ’n vinger of hand is, verwyder ringe om ongemak te vermy as daar swelling plaasvind.
  • Plaas ’n yspak op die wond om onmiddellike pyn te verlig en swelling te verminder. Moet dit nie langer as 10 minute op ’n slag daar hou nie.
  • As die wond op ’n arm of been is, lig die ledemaat die eerste 24 uur bo die hart.
  • Wend antiseptiese salf aan.
  • Moenie alkohol op die wond gebruik nie, want dit veroorsaak kwaai brandpyn en help nie met die ontsmetting nie.
  • Moenie wonde op die gesig verbind of toeplak nie. Los dit oop sodat dit lug kan kry.
  • Draai ’n steriele verband om snye op ledemate.
  • Bad of stort daagliks soos gewoonlik en maak dan die wond versigtig skoon onder die water.
  • Vervang die wonddekking daagliks of gereelder as dit nat word.
  • Kyk elke dag vir tekens van infeksie. (Sien onder volgende hofie)
  • Spreek jou dokter wanneer ’n snywond nie binne twee weke genees nie.

Wat is die tekens van ontsteking?

  • Snywonde gaan gewoonlik gepaard met teerheid, rooiheid, swelling en pyn. Die simptome moet binne 10 tot 14 dae verdwyn, anders moet jy liewer ’n dokter spreek.
  • As die simptome erger word pleks van beter, is dit ’n moontlike teken van ontsteking.
  • Koors is ’n teken van ontsteking.
  • As die wond etter (’n gelerige, onwelriekende vloeistof) uitskei, moet jy liewer mediese raad inwin.

Wat het ek in my noodhulpkissie nodig?

  • handskoene;
  • steriele gaas;
  • steriele verbande;
  • pleisters; en
  • antiseptiese salf

So kan jy snywonde voorkom:

  • Gebruik beskermende klere en toerusting wanneer jy aan sport soos fietsry en krieket deelneem.
  • Wees versigtig wanneer jy sonder skoene loop.
  • Dra jou veiligheidsgordel in die motor.
  • Pasop vir enige stukkende voorwerpe op die strand of in die see of swembad.

- Shané Barnard