SY MOOI blou oë glinster nog soos altyd, maar hier by sy ouerhuis in Randburg bespeur jy vandag ’n hartseer trek om die mond van die sanger wat altyd so spontaan en spierwit glimlag.

Dis ’n moeilike tyd vir Francois Henning – Afrikaanse musiekslawe se geliefde Snotkop.

Sy 64-jarige pa is ernstig siek, en hy moet toekyk terwyl die siekte die steunpilaar in sy lewe by die dag verder aftakel.

Dit het in Januarie begin toe Jan, ’n ingenieur met sy eie onderneming, opgemerk het hy word net ál maerder. Hy was meer as een keer by sy huisdokter om uit te vind wat skort, maar elke keer het dié net gesê hy moet beter eet.

Toe daar naderhand geen greintjie vet meer aan sy lyf oor was nie, het Jan ’n spesialis gaan spreek. Toe kry hy die tyding: Dis fynweefsel-longkanker.

“Dit was ’n ongelooflike skok. Ek was kwaad,” vertel Snotkop eerlik van die dag toe sy pa hom vertel het die dokter sê statisties het hy nog net sowat ’n jaar om te leef. Maar mettertyd het die sanger besef dit moet eerder vir die Henning-gesin ’n aansporing wees om elke dag voluit te leef en dankbaar te wees vir hul wonderlike gesin.

Met sy loopbaan is dit vir hom moeilik om meer by sy pa te kuier noudat hulle die dae wat hulle nog saam het, so moet koester.