Snotkop het pas sy prettige nuwe liedjie en video, Agter op my fiets, vrygestel en ‘n mens raak sommer lus om te begin trap as jy na die stukkie nostalgie kyk.

“Die hele image van die nuwe album, Soos ‘n boss, wat 17 Julie vrygestel word, is baie bling. Daarom het ons besluit om ‘n ‘opgepimpte’ goue fiets en baie goud in die video te gebruik. Ek wil fietsry weer cool maak. Ek wou ook eer bring aan ikoniese karakters in Suid-Afrika wat ek kan onthou uit my kinderjare, soos die oud Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld, Anneline Kriel.

Hy dra in van die tonele ‘n t-hemp met Anneline Kriel se gesig daarop – “Anneline Kriel sal altyd vir my die Mej. Suid-Afrika bly wat uitstaan. Sy is ‘n ikoon en ek is ‘n aanhanger. As sy ooit ‘n handelsmerk soos poppe wat soos sy lyk sou begin het, sou alles uitverkoop,” sê Snotkop

Nog ‘n ikoon wat gesien kan word is die kindertelevisie karakter Zet, wat baie populêr was vanaf die laat tagtigs. “Ek was eintlik jare terug in Zet,” lag Snotkop. “Ek was Speurder de Beer, hier rondom 2002/3.”

Randall Wicomb maak ook aan die begin sy verskyning. “Dit was baie lekker om hom te ontmoet en saam met hom te werk. Hy is so ‘n cool ou en herinner my, aan my jonger dae toe my ma hulle sy musiek in ons huis gespeel het. Dit was so ‘n lekker tyd en era. Joyful.”

“Die hele album is juis daarop gefokus dat jy jou lewe moet geniet. ‘n Jol hê en nie alles so ernstig opneem nie. Jy moet alles in jou lewe doen soos ‘n Boss. Selfs al is dit om nonsens aan te jaag.”

Kyk ook uit vir ‘n toneel in die video waar die bekende roosblaar toneel in die fliek, American Beauty, nageaap is.

Maar in plaas daarvan dat die blondine tussen roosblare lê, lê sy tussen stukkies biltong terwyl Snotkop van haar droom.