Woelige kleuters, sand tussen die tone en seewater wat so ver strek as wat die oog kan sien. Dis mos nou hoe ‘n lekker vakansie moet klink.

En as jy dit kan kombineer met ‘n lekker vleisie op die kole terwyl jy rustig na die room van ons land se musiektalent luister, hoekom nie?

So pak die kinders en die kampgoed in die kar en vat die pad Hartenbos toe.

Snotkop, Liani May, Eden, Quintin Prinsloo en nog vele meer van jou gunsteling kunstenaars staan reg om jou en jou gesin van 17 Desember tot 5 Januarie by die Huisgenoot Musiekplaas in Hartenbos te vermaak.

“Dit gaan my eerste optrede by die Hartenbos fees wees en ek is vreeslik opgewonde,” gesels die blonde Karlien van Jaarsveld.

Sedert die bekendstelling van haar debuutalbum, Karlien Van Jaarsveld, vroeër vanjaar kan die sangeres en ouer suster van die hartebreker Bobby van Jaarsveld nie voorbly met optredes nie.

“Ek gaan ‘n klomp van die liedjies op die album sing en die mense kan gerus ‘n oor oophou vir As Die Gordyn Val,” verklap sy opgewonde.

Die stoutseun van Afrikaanse popmusiek, Snotkop, tel al die dae tot die fees en kan ook nie meer wag nie.

“Hartenbos is die plek om te wees oor Desember vakansies en mense wat al van my shows gesien het sal weet dat dit ‘n lekker jol gaan wees,” vertel die energieke sanger.

‘n Ander gunsteling en Skud-Jou-Biscuit-sanger, Pieter Koen, is ‘n gereelde Hartenbos-kunstenaar en moedig vakansiegangers aan om eers ‘n draai by die Musiekplaas te maak voor hulle ‘n bietjie rustigheid gaan soek.

“Die Drie Susters gaan beslis daar wees en ek mag dalk net my biscuit skud,” spot hy.

Die fees skop op die 17de Desember af en eindig 5 Januarie. En met kaartjies tussen R50 en R75 kan jy dit nie misloop nie. Sien julle daar!

Vir meer inligting besoek: huisgenoot.com/hartenbos