Die berge staan cliché mooi teen die blou lug afgeëts.

Dis as’t ware die perfekte raam vir die doek hier op die esel so ’n entjie buite die plaashuisie op ’n lappie grond by Bethulie.

Die man voor die esel verf met energieke kwashale aan die hoenderhaan waaraan hy met olieverf lewe gee.

‘‘Is dit nie die volmaakte plek om te skilder nie? Hier voel ek ek kan my kreatiwiteit vrye teuels gee. Dit is asof alles hier net in plek val,’’ sê hy palet in die hand.

Met sy kenmerkende pet, Ed Hardy-T-hemp en denim laag om die boude lyk hy die ene Snotkop, maar dit is Francois Henning wat hier uitspan.

Die sanger van die liedjie Parapapa het die plasie in die Suid-Vrystaat ’n jaar gelede gekoop en vir hom ’n eenvoudige oopplanhuisie op die vrugbare stuk aarde laat bou.

Dit is hier waarheen hy kom om stil te word ná optredes landwyd en toere oorsee.

En wat min mense weet, is dat Francois op sy beste ontspan met ’n verfkwas of ’n kamera in die hand. Sy liefde vir mooi prente en aangrypende beelde vloei net so sterk deur sy are as sy passie vir musiek.

En hoewel die rapper dit nog nooit oorweeg het om sy mikrofoon vir ’n verfkwas te ruil nie is die prentjiemakery vir hom ’n kreatiewe uitlaatklep.

‘‘Dit is vir my ongelooflik belangrik om myself kreatief te kan uitdruk,’’ sê hy.

“Dan is ek gelukkig. Om musiek te maak is een deel daarvan. Om te skilder is ’n ander vorm daarvan, maar iets wat ek net vir myself doen. Wanneer jy sing, sing jy tog vir jou gehoor. Dis so lekker. Maar wanneer ek skilder of foto’s neem, is dit anders. Hier word ek nie aangesê hoe om dit te doen of wat om te teken nie. Dis net ek.

“Hier kan ek rebelleer op my manier. En as iemand nie hou van wat ek doen nie, kan hy gaan vlieg.’’

Lees die volledige artikel in die lente-uitgawe van Tempo.