Hy kom oor die rooi aarde aangestap, ’n groot, wit boerpampoen onder die arm. Trots hou hy dit omhoog.

‘‘En daar is nog baie daar onder die blare,’’ beduie hy ingenome na die lappie plante. Maar dis ’n half vreemde boer

wat vandag hier met sy oes spog.

Die kêrel met die Ed Hardy-Themp, swart kniebroek, skewe pet op die kop en stoutseunglimlag lyk eintlik... wel, hy

lyk soos Snotkop, die sexy, energieke, gewilde rapperseun van Afrikaanse musiek.

En hier op sy eie ‘‘plasie’’ op die rand van Bethulie in die Suid-Vrystaat kan Snotkop inderdaad weer net Francois Henning wees, die effens skaam, aweregse stadskind van Randburg.

Hy het verlede jaar begin verlang na ’n plek waar hy net homself kan wees, waar hy sy bure ken en waar hy weer kan

voel soos die klein seuntjie op sy oupa se plaas by Parys.

En toe hy een naweek by sy fotograafvriend Piet Snyman op Bethulie gaan kuier, vind hy dit. "Piet het wyle Patrick Mynhardt (die akteur van dié dorp) se grootwordhuis gekoop, en toe ek in die straat voor die huis staan, het ek skielik net rustig geword. Dit het weer gevoel soos kleintyd toe ek saam met my oupa gaan visvang het," vertel Snotkop.

Hy het toe dadelik vir hom ook ’n plekkie daar begin soek, en kort voor lank het hy twee yslike erwe langs mekaar gekoop.

Lees meer oor Snotkop in die uitgawe van 8 April.