Sneeusoekers in die Wes-Kaap kan hul avontuurstewels reg hou, want ’n gunstige weerstelsel sal die naweek oor die provinsie inbeweeg met die belofte van sneeu op die berge in die Suidwes-Kaap (SWK) teen Sondag.

Storm Chasing berig hoewel sneeu vroeër die week onwaarskynlik gelyk het, het die toestand die afgelope 24 uur of wat dramaties verander.

“In daardie stadium het die hoofwêreldmodelle getoon vriesvlakke sal nie veel benede 2 000 m daal nie, maar die jongste lopies wys ’n veel gunstiger vooruitsig vir sneeusoekers,” lui ’n bywerking op die webtuiste.

Snow Report bevestig die moontlikhede op hul Facebook-blad deur te sê: “Dit lyk ál waarskynliker dat die SWK teen Sondagaand sneeu sal kry wat moontlik tot Maandagmiddag sal voortduur.”

Hulle voeg by gebiede soos die Matroosberg kan Sondagaand tot Maandagoggend ’n taamlik swaar sneeuneerslag verwag. “In gebiede om Ceres, veral die Matroosberg, kan sneeu swaarder val, en tussen 10 en 15 cm diep (en dalk dieper) by die hoër hoogtes lê. Reën sal saam met die sneeu by laer hoogtes voorkom,” sê hulle in die jongste bywerking.

’n Tweede front sal na verwagting volgende week inbeweeg en ’n wyer gebied dek, insluitend die Wes- en Oos-Kaap, Lesotho, Kwazulu-Natal en dalk selfs die Vrystaat.

Bron: Traveller24