Wat is nou beter as smullekker warm kaaserigheid wat uit ’n heerlike omelet peul? Die Nataniël Tafel het ’n slim plan met jou gunstelingkaas uit die wye verskeidenheid wat nou by Checkers beskikbaar is.

Jy benodig:

  • 8 eiers
  • seesout
  • grofgemaalde swartpeper
  • brie (sowat 50 g)
  • bloukaas (sowat 40 g)
  • bokmelkkaas (sowat 50 g)
  • ’n hand vol vars basilie
  • 1 eetlepel vars pietersielie, gekap
  • 2 eetlepels grasuie, gekap
  • botter of druiwepitolie

Metode:

Klits eiers en geur baie liggies met die sout en peper. Verhit ’n klein bietjie olie of botter in ’n middelslag-pan. Gooi ’n kwart van die eiers in die pan vir die eerste omelet. Bak tot dit bokant amper gestol is. Gly uit op ’n opdienbord. Breek die brie oor die omelet en strooi die geskeurde basilieblare oor. Bak die volgende omelet en plaas versigtig bo-op die eerste omelet. Breek die bloukaas oor en sprinkel die pietersielie oor. Bak die derde omelet en plaas bo-op. Breek die bokmelkkaas oor en sprinkel met die grasuie. Bak die laaste omelet en plaas bo-op. Sny in skywe en sit warm voor of teen kamertemperatuur.

- www.dienatanieltafel.co.za/omeletkoek/