En hiermee bedoel ons letterlik ’n lewensredder. Retinoblastoma is ’n seldsame tipe oogkanker wat byna eksklusief by jong kinders voorkom. Dis ’n gewas wat op die retina groei - en dit kan deur jou slimfoon se kamera opgetel word.

In kontras met rooi-oogfoto’s gloei dié gewas wit wanneer die kameraflits dit tref.

In kontras met rooi-oogfoto’s gloei dié gewas wit wanneer die kameraflits dit tref.

Hierdie verskynsel het onlangs ’n ma genoop om haar tweejarige seun vir ’n oogondersoek te vat toe sy die wit-oog resultate gewaar op al die foto’s wat sy met haar slimfoon van hom geneem het.

Julie Fitzgerald, van Illinois in Amerika, het sowat twee maande gelede die verskynsel vir die eerste keer opgemerk. “Ek het hierdie vreemde gevoel in my binneste gekry iets is verkeerd,” het sy ABC News vertel.

’n Oogarts het oogkanker by haar seun, Avery, bevestig. Avery se oog moes ongelukkig verwyder word om die verspreiding van die kanker te keer.

“Dit was ons grootste nagmerrie, maar gelukkig kon ons ons seun se lewe red,” het Julie bygevoeg.

Dokters waarsku nou wel dat enige wit gloed op ’n slimfoonfoto nie sommer dadelik vir retinoblastoma aangesien moet word nie. Nietemin kan ’n oogondersoek in die geval van ’n wit gloed nie skade doen nie. “Voorsorg is beter as nasorg,” het een dokter laat hoor.

Bronne: The Verge; The Mirror