Drie aspirant-diewe van Mankato in die Amerikaanse deelstaat Minnesota se planne is in die kiem gesmoor na een van die makkers die Amerikaanse noodnommer vir die polisie, 911, onwetend gebel het.

Dis nou ‘n les wat geleer word as jy nie jou selfoon se sleutelbord ‘sluit’ nie. Skynbaar het die ongelukkige sot se selfoon wat in sy sak was, outomaties 911 geskakel terwyl hulle besig was om ’n rooftog uit te voer. Die 911-operateur was aanvanklik oorbluf deur die vreemde oproep.
'Die halfuurlange oproep het die polisie gehelp om die presiese ligging van die selfoon – en natuurlik dié van die boewe – te bepaal.'

“Sy kon twee stemme aan die anderkant van die lyn uitmaak,” het ’n plaaslike polisiekaptein, Rich Murry gesê.

“Sy het aangehou om die gesprek tussen die persone te monitor en het daaruit afgelei dat hulle besig was om ’n rooftog uit te voer,” het Rich bygevoeg.

Die halfuurlange oproep het die polisie gehelp om die presiese ligging van die selfoon – en natuurlik dié van die boewe – te bepaal. Twee verdagtes en ’n derde makker is deur die polisie in hegtenis geneem is.

“Die oproep was natuurlik ’n ongeluk,” het Murry later gesê. Die rampokkers is gevang met gesteelde goedere van ’n nabye huis wat hulle leeg gedra het.

Op die telefoonoproep kon die operateur selfs uitmaak hoe een bekommerd sê hy dink hy sien die polisie aankom.

Bronne: www.ktoe.com; Huffingtonpost