'n Afskrif van die dossier in die sogenaamde De Zalze-bylmoordsaak is glo Vrydag gesteel kort nadat die beskuldigde, Henri van Breda (21), in die Kaapstadse hooggeregshof verskyn het, berig Netwerk24.

Die Seepunt-polisiekantoor het aan Huisgenoot bevestig 'n dossier en ander items is Vrydag by hulle as gesteel aangemeld.

Die dossier is glo saam met 'n skootrekenaar uit Henri se prokureur, Lorinda van Niekerk, se voertuig gesteel.

Normaalweg dra regspanne nie oorspronklike dokumente by hulle nie en Henri se regspan sou na verwagting slegs 'n afskrif van die dossier en nie die oorspronklike een by hulle gehad het nie.

"Ek dra geen kennis hiervan nie en dit sal ongelukkig met haar bevestig moet word," het Henri se advokaat, Pieter Botha, by navraag aan Huisgenoot gesê. Op die vraag oor of dit die saak hoegenaamd kan beïnvloed, het hy gesê hy "glo nie dat dit 'n probleem behoort te wees nie".

Huisgenoot kon nog nie daarin slaag om met Lorinda kontak te maak nie.

Henri het vanoggend vlugtig in die Kaapstadse hooggeregshof verskyn vir 'n voorverhoor. Dit is uitgestel tot 18 November.

Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord sowel as een van regsverydeling nadat sy gesin begin-verlede jaar in 'n grusame bylaanval afgemaai is. Net Henri en sy jonger suster, Marli, het oorleef.