Rene Tracy Roman, die 13-jarige meisie wat sedert 10 Maart vermis is, se lyk is Dinsdag in Sint Agatha, Lavender Hill, op die Kaapse Vlakte gevind.

Speurders het ’n 50-jarige man intussen vir haar vermeende moord in Stellenbosch in hegtenis geneem. Tydens ’n ter plaatse ondersoek van die misdaadtoneel in die teenwoordigheid van die verdagte, het sowat 1 000 lede van die gemeenskap opgeruk om hom aan te val.

’n Polisielid is tydens die voorval beseer en vier voertuie is beskadig. Die ondersoek moes voorlopig gestaak word.

Die verdagte sou laat Donderdagmiddag in die Wynbergse landdroshof verskyn.

Vroeër vandag

Daar is selfs ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir enigiemand met inligting wat daartoe lei dat Rene opgespoor en veilig by die huis besorg word. Rene het op 10 Maart verdwyn en haar ouers het teen alle verwagtinge in bly hoop dat die gru-vonds, wat vroeër vandeesweek gemaak is, nie is wat hulle gevrees het nie. Donderdagmiddag is die nuus bevestig dat die halfnaakte en gedeeltelik-ontbinde lyk wat gevind is, wel dié van die 13-jarige meisie is. ’n Vyftigjarige man is intussen ook in Stellenbosch in hegtenis geneem in verband met die moord.