As jy in die Kaap woon en versuim om verkeersboetes te betaal en lasbriewe ignoreer, kan die balju van die hof dalk eersdaags aan jou deur kom klop.

En wanneer die balju aan jou deur kom klop, is dit reeds te laat om sommer net jou boete te vereffen, waarsku Arnold Vermaak, ’n prokureur van Visagie Vos in Goodwood.

Met dié dat JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, aangekondig het die balju gaan in die Kaapse metropool help om boete-ontduikers te laat les opsê, het die hoop vir padvarke om steeds die lang arm van die gereg te ontduik, spoed verloor.

Lees ook: Sit dit af, sit dit af . . . Só kan jy lag-lag krag én geld spaar!

“’n Lasbrief vir inhegtenisneming word eers gemagtig nadat jy gedagvaar is en versuim het om in die hof voor te kom. As die hof tevrede is dat jy bewus was van die hofdatum en steeds versuim het om te verskyn, word so ’n lasbrief uitgereik,” verduidelik Arnold en voeg by dat die klag van minagting dan bykomend tot die verkeersoortreding is.

“In teorie sal die balju jou nou in hegtenis neem en na die hof bring vir ’n minagtingsverhoor. Dan moet jy aan ’n landdros verduidelik waarom jy nie met die oorspronklike dagvaarding in die hof voorgekom het nie.”

Maar in Arnold se ervaring as prokureur waarsku die balju by minagtingsverrigtinge die persoon bloot om op ’n sekere dag in die hof te verskyn en die kans dat daaraan gehoor gegee word, is feitlik nul.

Lees ook: Ons maak dit maklik – só raak die begrotingsrede jou bankbalans

“Die balju’s sal die persoon dus in die hande moet kry, in hegtenis moet neem en na die hof bring. Dit is makliker gesê as gedaan, veral wanneer iemand hom verset teen inhegtenisneming of familie hom beskerm.”

Arnold twyfel sterk of die plaaslike balju’s die vermoë het om al hierdie lasbriewe vir inhegtenisneming suksesvol uit te voer. Maar dis dalk beter vir Kapenaars om ag te slaan op die Wet van Transvaal wat uitstaande verkeersboetes betref.

* Kaapse bestuurders wat wil weet op hulle uitstaande verkeersboetes het, kan die verkeersafdeling tydens kantoorure (Maandag tot Vrydag 09:00 – 15:30) bel by 0860-103-089.

- Almari Wessels

Ook op Huisgenoot.com

Het jy sonde met die bure? Hier’s raad

Wat jy moet weet vóór jy kredietkaartskuld aangaan

Begroot só wanneer jy noustrop trek

Werkstres laat jou meer eet

Kan jy iemand anders se rumoerige huurders uitskop?