samsung
Samsung gaan vir eers nie nog van die selfone vervaardig nie en twee groot Amerikaanse netwerke, AT&T en T-Mobile, het albei bekendgemaak dat hulle nie meer die slimfoonmodel gaan regmaak of verkoop nie. Die skeppers het "die vervaardigingsrooster aangepas om te sorg dat gehalte en veiligheid eerste kom", het Samsung aan die BBC gesê. Die nuwerwetse model is maar in Augustus vanjaar bekendgestel.

Hoewel dit nog onduidelik is of hierdie staking tydelik is, bespiegel heelwat tegno-kenners dat die selfoon heeltemal van die mark gehaal gaan word nadat dit die laaste ruk in die spervuur was oor beweerde veiligheidsrisiko's. Vroeër vandeesmaand moes 'n binnelandse vlug in Amerika vertraag word omdat een van dié slimfone aanboord aan die brand geslaan het. Nog 'n Amerikaanse man het glo onlangs wakker geskrik nadat sy Galaxy Note7 in die middel van die nag vlam gevat het. Teen September het 35 mense wêreldwyd soortgelyke gevalle by Samsung aangemeld. Lugdienste in Amerika vereis nou ook dat passasiers met hierdie soort foon dit afgeskakel hou tydens die vlug. "Na aanleiding van onlangse insidente met die nuwe Galaxy Note7, het ons 'n deeglike ondersoek geloods en 'n probleem met die battery opgespoor," het die vervaardiger in September in 'n verklaring gesê.

Daar is toe 2,5 miljoen van dié modelle herroep uit vrees dat die foutiewe batterye tot nog ongelukke kan lei. Gebruikers se fone is met nuwe modelle van die Galaxy Note7 vervang, maar dié nuwe modelle gee glo ook steeds probleme en oorverhit.

"Ons sal aanhou om so vinnig as moontlik te werk om die sake wat by ons aangemeld is, te ondersoek sodat ons by die wortel van die probleem kan uitkom," het Samsung in 'n verklaring gesê. "Ons sal so gou as moontlik ons bevindinge bekendmaak."

Bronne: Samsung, BBC, Yonhap News Agency.