Die department van internasionale betrekkinge sê ’n paartjie wat in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in hegtenis geneem is omdat hulle voorhuwelikse seks gehad het, word onderwerp aan ’n regsproses in ooreenstemming met die land se wette.

[caption id="attachment_163013" align="alignnone" width="603"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Dit was nadat dokters vasgestel het Iryna, wat weens maagkrampe na ’n hospitaal toe gegaan het, is swanger.

Maar Nelson Kgwete, ’n woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het aan Huisgenoot gesê die Suid-Afrikaanse ambassade in Aboe Dhabi kan nie by die regsproses in die VAE inmeng nie.

Die departement moet nog ’n amptelike verklaring oor die saak uitreik.

Emlyn en Iryna is op 29 Januarie in hegtenis geneem, maar besonderhede van hul inhegtenisneming het sedertdien bekend geword.

Toe dokters uitvind Iryna verwag, het hulle die owerheid in kennis gestel, want in die VAE is voorhuwelikse seks teen die wet.

[caption id="attachment_163014" align="alignnone" width="601"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

TimesLive berig Iryna het haar ingevolge Sharia-wette skuldig gemaak aan “zina”‚ ’n Islamitiese term vir buite-egtelike seks.

Volgens MailOnline, is die twee, wat mekaar in die hoofstad van die VAE ontmoet en begin uitgaan het, in ’n hospitaal in hegtenis geneem omdat hulle nie ’n huweliksertifikaat kon toon nie.

Hulle is eers na die Yas-polisiekantoor geneem en toe na die Al Wathba-tronk.

Hulle is nog nie aangekla nie, want die owerheid wil nog bo alle twyfel vasstel wie die vader van die kind is, hoe lank die paartjie seksueel aktief was en Iryna se MIV-status.

Volgens News24, wat met Emlyn se ma, Linda Culverwell, gepraat het, het die twee onlangs verloof geraak.

[caption id="attachment_163012" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Die Oekraïense ambassade is glo betrokke en probeer steeds toestemming kry dat die egpaar trou of gedeporteer word.

“Ons probeer boodskappe by die twee uitkry om te sê ons is lief vir hulle en hulle moenie bekommerd wees nie . . . Wat my die meeste bekommer is dat ons eintlik nie ’n benul het hoe dit met hulle gaan nie,” het News24 Linda aangehaal.

“Al wat die departement van internasionale betrekkinge bereid is om te sê, is ons moet ‘geduldig wees’, maar hier is drie lewens op die spel.”

- Khatija Nxedlana