Aanhangers reageer met skok, woede en verslaentheid op gerugte dat Jamie Dornan die hoofrol in enige opvolg op die prikkelprent Fifty Shades of Grey van die hand gewys het.

Die akteur het na bewering sy kort verbintenis met die rolprente vroeg beëindig, want sy vrou wil nie hê hy moet in nog daarvan ’n hoofrol vertolk nie.

Die aktrise Amelia Warner, wat ’n 15 maande oue dogter by die ster het, is glo ongelukkig daaroor dat hy die eksplisiete sekstonele in die omstrede rolprent uitbeeld.

En Jamie, van Holywood in die Noord-Ierse graafskap Down, is ook glo verpletter oor die stortvloed neerhalende resensies oor die rolprentverwerking van die gewaagde SM-boek.

Die Australiese tydskrif NW beweer die 32-jarige het vir die rolprentbase gesê hy sal nie sy rol as die sakeman Christian Grey vir die tweede en derde aflewering hervat nie.