Rob (62) se seun, Robbie Louw (24), ’n rugbyspeler vir Boland-Kavaliers en Sewes-reserwe, het op Instagram ’n foto gedeel om hulde te bring aan sy oupa. “Jy is ’n ware legende, Oupa,” het hy by ’n gebroke hart geskryf en vertel sy oupa sou oor twee weke sy 95ste verjaardag gevier het. “Dankie vir al die lewenslesse wat jy vir ons almal geleer het.”

Ook sy modelsuster, Roxy (28), het op Instagram geskryf: “Vandag vier ons jou lewe. Die lewe wat jy geskep het, hierdie nalatenskap wat jy agterlaat. Jy sou vandeesmaand 95 jaar oud word. Lief jou vir ewig. Jy is in goeie hande; ons weet.” Roxy het ook haar en Robbie se susters, Misty (27) en Shahnee (26), ’n geleentheidsbeplanner, in die inskrywing gemerk (tag).

Pa Rob het aan Huisgenoot vertel sy pa, wat bedlêend was nadat hy 10 dae gelede sy heup gebreek het, is in die vroeë oggendure in ’n aftreeoord naby Durbanville aan komplikasies dood ná die val. Sy ma, Ruby (88), was by.

Rob vertel sy pa het in sy leeftyd talle mense se lewe aangeraak.

“Hy was net so ’n ongelooflike mens. Hy was nog baie aktief en gesond, vier jaar gelede het hy nog ge-body surf.”

Sy pa was 25 jaar lank as rugbyskeidsregter aan die Westelike Provinsie verbonde. Hy vertel sy pa is op Robbeneiland gebore. Sy ouma het daar as ’n verpleegster gewerk.

“In die tyd voor gevangenes op die eiland aangehou is, is melaatses daarheen gestuur.” Hy vertel sy pa het ook die Tweede Wêreldoorlog oorleef en is in die been gewond toe hulle Italië gebombardeer het.

“Min mense het die voorreg om so lank te leef. Al is ons hart baie seer oor sy afsterwe, het my pa ’n lang en goeie lewe gehad.”