As jy gereeld 7de Laan op weeksaande mis, moet jy maar voortaan daarvan vergeet om Sondag voor die kassie op te krul om die omnibus te kyk.

Dié 5-episode-bonanza, met die afgelope week se agtereenvolgende programme, is nou iets van die verlede.

7de Laan het op hul Facebookblad ’n verklaring van die SAUK gepubliseer wat bevestig dat die omnibus nie meer deel van SABC 2 se Sondagskedule is nie.

Luidens die verklaring word die omnibus uitgelaat om plek te maak vir ’n nuwe musiekprogram met die naam Sould’ out Sessions. Dié nuwe program sal 14:00 uitgesaai word en daarna sal ’n gesinsfliek om 16:00 volg.

“Kykers kan steeds die herhalings van die vorige aand se program elke dag om 13:00 op SABC 2 en om 13:30 op SABC 3 kyk. Die herhalings is ook beskikbaar op YouTube.”

7de Laan word weeksdae om 18:00 op SABC 2 uitgesaai.