Anria Conradie (33) was in Sandton by die werk toe haar suster, Neeltjie Conradie (33), haar benoud laat weet daar is ’n slang op haar silwerkleurige Volvo C30.

Anria en Hilda Olwagen ry saam werk toe en Anria se motor was dus by die huis.

“Twee jaar gelede het ’n outjie langs ons ingetrek en hy het ons vertel hy het ’n slang as troeteldier,” sê Anria. Toe Anria hom bel, het hy bevestig dit moet inderdaad sy slang, Cinnamon, wees wat ontsnap het.

Omdat hy by die werk besig was, het hy ’n vriend gestuur om te gaan help. Dié was egter self skrikkerig en toe hy probeer om die slang te vang, het die benoude dier by die enjin ingeseil.

Anria het Croc City ontbied, maar ná ’n soektog van twee uur was die 2 m lange slang steeds soek.

“Die man het gesê as die slang gelukkig is waar hy is, sou hy tot drie maande in die enjin kon oorleef. Die slegte nuus was as ons met die motor sou ry, kon die slang weens die enjinhitte doodbrand.”

Eindelik is die slang met dooie muise en ’n kussing met verwarmingsplaat by die motor probeer uitlok, maar ná ’n dag het Anria haar versekeringsmaatskappy, Outsurance, gebel.

Hulle het insleepdienste na die toneel gestuur.

[caption id="attachment_135669" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

“My kar is op ’n trok gelaai en na Volvo Wes-Rand geneem,” vertel Anria.

Anria is ook na die motormaatskappy, maar op pad het die insleepdienste haar gebel. Die slang was op pad by die enjin uit. Met houers het Anria, Neeltjie en Delmarie Dahlmann, ’n vriendin wat naby woon, hulle na Volvo gehaas.

Eindelik is die enjinplaat, bande, ligte en modderskerm verwyder in die soektog na Cinnamon, wat opgespoor is nadat die modderskerm afgehaal is.

Kyk: Dodelike bruinslang kom sy moses teë . . . en dit teen ’n spinnekop!

Intussen het Cinnamon ook ’n nuwe huis gekry, by Nick Burger, ’n tegnikus van Volvo, se plot by Muldersdrift naby Krugersdorp.

“Toe ek ons buurman laat weet iemand by Volvo stel in Cinnamon belang, het hy toegegee dit is beter omdat hy voorheen alleen was.”

Nick het nou twee slange en sê Cinnamon pas goed aan.

slangnick

“Ek is ’n groot slangliefhebber, so ek is bly alles het goed uitgewerk en dat die slang nie seergekry het nie.”

Anria sê sy is nie bang vir slange nie, maar verkies om hulle van ver af te bekyk.

Lees ook: Ratelslang bederf so byna paartjie se spesiale dag … en sorg vir die vreemdste troufoto’s ooit!

“Ek was bang as ons met die motor ry, ‘spring’ hy deur die lugopeninge in die motor uit,” vertel sy.

Binnekort gaan Cinnamon dalk ook ’n nuwe naam hê. “Ons het gedink om hom ’n Volvo-verwante naam te gee, dalk iets soos T5,” sê Nick.