’n Slang het ’n vrou gepik terwyl sy op die toilet gesit het.

Noraslinda Asat, ’n huisvrou van Singapoer, was op die toilet op die grondverdieping van haar huis toe sy water hoor borrel en ’n skerp pyn in haar dy voel.

Sy beweer toe sy afkyk, het sy ’n luislang van byna 2m sy tande in haar dy sien slaan. Ná talle pogings kon sy dit eindelik dwing om sy houvas te verslap, berig die koerant Metro.

Die 24-jarige vrou is vlugtig in die hospitaal behandel en het ’n inspuiting vir die byt ontvang, maar beweer die sielkundige skade is blywend.

Beamptes van die Vereniging vir Dierenavorsing en –opvoeding sê hulle kon nie die slang opspoor nadat hulle ontbied is nie, maar ’n vriend van Noraslinda sê hulle het dit later onder ’n mangat sien inseil.