Passasiers op ’n plaaslike vlug in Mexiko het ’n Hollywood-nagmerrie beleef nes dié in die fliek Snakes on a Plane toe ’n slang verbyseil en toe vanuit die kajuitplafon hang.

Die lugredery Aeromexico het aan Associated Press bevestig hulle het die slang Sondag op ’n vlug van Torreon na Mexiko gekry.

Een van die passasiers, Indalecio Medina, het ’n video met sy selfoon geneem en op Twitter gedeel.

In die video beweeg die groen slang tussen die vliegtuig se kant en die bagasierak, voor hy in die kajuit met die res van sy lyf val en vanuit die dak hang.

Lees ook: Slange paar in Australië – en dis vreesaanjaend!

“Ek was besig om ’n tydskrif te lees en die passasier langs my het dit gesien,” het Indalecio aan Associate Press vertel. Volgens hom was die slang sowat 1 m lank.

Passasiers het binne sekondes hulself losgemaak en opgespring toe hulle die slang gewaar. Toe die slang op die vloer val, het hulle hom met komberse vasgevang, sê Indalecio.

Gelukkig was dit nou nie heeltemal soos die fliektoneel nie en almal was kalm vir die res van die vlug. “Dit was ’n skrikwekkende situasie, maar mense het kalm gebly omdat dit nie uit daardie spasie gekom het nie en niemand het histeries geraak nie,” sê hy. Sommige mense het selfs opgestaan om die reptiel van nader te bekyk, vertel hy.

Lees ook: Monsterslang by Brasiliaanse bouperseel gevind

Werkers het die slang oomblikke nadat die vliegtuig geland het, verwyder. Die slang was nie ’n giftige slang nie.

Aeremexico het in ’n verklaring bevestig hulle is besig om die voorval te ondersoek oor hoe die slang tot in die kajuit gekom het en wil soortgelyke voorvalle verhoed.

Bronne: telegraph.co.uk, apnews.com, time.com