Nadat sy ’n jaar lank pal in die hof was en die aand moes herleef toe sy seksueel aangerand word terwyl sy bewusteloos agter ’n vullisstortbak lê, het ’n jong vrou opgestaan om die man wat haar aangeval het, in die oë te kyk.

Die man, ’n 20-jarige oudstudent van Stanford genaamd Brock Turner, is deur ’n jurie in Kalifornië skuldig bevind op drie aanklagte van seksuele aanranding.
Twee Sweedse gegradueerdes van Stanford het tydens die aanval verlede jaar op die destydse eerstejaarstudent afgekom waar hy die bewustelose vrou seksueel aanrand. Hy het gehardloop toe hulle nader kom en die twee het hom platgeduik en die polisie gebel.
Maar Brock – eens ’n uitblinkerswemmer wat gedroom het van deelname aan die Olimpiese Spele – is net ses maande in ’n distriksgevangenis vir sy misdade opgelê. Die regter het dit geregverdig deur te sê ’n strawwer vonnis sou ’n “ernstige uitwerking” op Brock hê.
Regter Aaron Persky se vonnis het onder skerp kritiek deurgeloop op sosiale media en die media wêreldwyd – asook van die 23-jarige slagoffer.

“Edelagbare,” het die jong vrou die regter kalm in die hof toegespreek. “As dit in die haak is, wil ek graag die grootste deel van die verklaring direk aan die beskuldigde voorlees.”

Sy het toe ’n kragtige brief voorgelees aan die man wat haar lewe verwoes het. Die volledige brief is deur die distriksprokureur se kantoor van Palo Alto uitgereik.

Mel Robbins, ’n regsontleder en ma, het in ’n meningsartikel vir CNN die brief “een van die kragtigste goed wat ek al gesien het” genoem.

“Dis aangrypend. Dis rou. Ek het aan elke woord gehang. Ek is ’n ouer. Ek was so ontroer dat ek ’n afskrif uitgedruk het. Ek wou hê dat my gesin dit lees; nie net ons twee dogters nie, maar ook my man en seun.

“Dit is die mense wat die brief moet lees. Gee dit vir jou seuns, jou broers en jou pelle. Al wat verandering sal teweegbring, is bewusmaking onder mans, die goeie ouens. Dis hoekom ek vra dat julle die brief wys aan jul seuns, broers en vriende.”

KLIK HIER om haar aangrypende brief te lees. 

Bronne: Buzzfeed, Palo Alto Online, CNN, NBC

Ook op Huisgenoot.com

Roerende helde-afskeid vir laaste 9/11-hond

Errol se meisie het nie een varkie in die hok nie

Mamma Mia! Abba-aanhangers sal hiervan hou