Kyk net hierdie slim plan om ou koerante ter herwin én ’n verskil in jou gemeenskap te maak. Media 24 Nuus se George-kantoor het besluit om vir Mandela-dag 20 slaapsakke uit koerantpapier te maak. Dit sal dan aan mense op straat wat moet koud slaap, oorhandig word.

“Ons het vreeslik gegrawe vir ’n oorspronklike idee, ook omdat dit waarskynlik die laaste 18 Julie sal wees dat Madiba nog met ons is. Ons wil graag hê dit moet ekstra spesiaal wees,” sê Mandi Botha, die redakteur van die Eden Express. Toe ’n inwoner van George die kantoor bel en vra vir ou koerante om slaapsakke mee te maak, het dit na ’n blink plan geklink.

“Ons raak al baie beter ook. Gister het twee mense ’n uur aan een slaapsak gewerk, maar nou kry ons dit al binne 10 minute reg! Die slaapsakke is dalk nie meer so netjies nie, maar steeds net so funksioneel,” vertel Mandi laggend.

Jy kan dit ook doen! Al wat ’n mens nodig het is baie koerantpapier, maskeerband en groot vullissakke.

Klik hier om te sien hoe die slaapsakke gemaak word: http://www.denverlfl.org/OrgHeaders/2523/How%20to%20Make%20Sleeping%20Bags%20out%20of%20Recycled%20Newspaper.pdf

(Suzaan Hauman)