Michael Douglas se onthulling dat hy weens orale seks keelkanker gekry het was die finale strooi vir Catherine Zeta-Jones.

Die Hollywood-egpaar het op 28 Augustus aangekondig hulle gaan ná 13 jaar van getroude lewe uitmekaar om “hul huwelik te evalueer en daaraan te werk”. Catherine wou glo afstand hê nadat Michael onthul het sy kanker is veroorsaak deur die menslike papilloomvirus  en dat hy die virus deur orale seks gekry het. Die 68-jarige ster het dit egter nie duidelik gemaak of hy die virus opgedoen het voor hy sy vrou ontmoet het nie. ’n Bron het aan die koerant The Sun gesê: “Van toe af was dit afdraande pad.”

Behalwe vir die Wall Street-akteur se kankerstryd, wat hy in 2011 geklop het, ly Catherine (43) aan bipolêre steuring II. Dit het veroorsaak dat sy onlangs twee keer in ’n inrigting vir depressie behandel is; die mees onlangse keer was in Mei.

Die egpaar het aan die einde van daardie maand besluit om uitmekaar te gaan, hoewel hulle blykbaar toe al ’n ruk lank afsonderlike lewens gelei het.

’n Bron wat naby hul weelderige huis in Bedford, Connecticut, woon, het aan The Sun gesê: “Ons sien omtrent al 18 maande lank nie veel van Michael hier by Catherine nie. Die meeste van sy vriende is in New York. Hy hou van die stad, sy hou van perde en gholfspeel. Hulle verskil soos dag en nag.”

Michael hou tans alleen in Europa vakansie. Hy is voor die aanvang van die Deauville-rolprentfees in Frankryk, waar hy Catherine in 1998 ontmoet het, in ’n peinsende bui op ’n vriend se jag aan die kus van Sardinië afgeneem.

Die akteur het onlangs nog gesê hul probleme het hul verhouding net sterker gemaak. Hy het gesê: “Ware liefde verg werk. Liefde is ’n buitengewone gevoel wat uit die diepte van jou siel kom, maar jy weet, dit moet vertroetel word. Die ding wat geleer het ek oor ouer word, is dat jy nie die liefde as vanselfsprekend kan aanvaar nie. Jy beskerm dit en dit groei, en ná ’n mens se eerste, fisieke, emosionele aspekte, word dit dieper.”

Catherine is glo tans saam met hul kinders, Dylan (13) en Carys (10), in New York.