'n Gewapende persoon het Maandag net voor 10:00 op niksvermoedende studente op die Universiteit van Ohio se kampus losgebrand en tot dusver minstens agt beseer. Volgens Brian, 'n ooggetuie, is die brandalarm geaktiveer waarna die gewapende man in vermoedelik 'n Honda Civic teen 'n hoë spoed reguit op studente afgejaag het.

"Ek het 'n paar studente op die grond sien lê," het Brian aan ABC News gesê. Hy het ook verwys na skote wat hy gehoor het, maar is onseker of dit van die polisie of van die gewapende man afkomstig was. Brian het ook gesê dat hy gesien het hoe die polisie die liggaam van 'n persoon bedek.
Volgens gerugte wat deur mede-studente oorgedra is, is een van die professors verbonde aan die universiteit met 'n kapmes (machete) aangeval.
Sover bekend is agt mense in die voorval beseer waarvan een se toestand kritiek is.
Rod Wheeler, 'n voormalige speurder, het mense op kampus gewaarsku om skuiling te vind en seker te maak hul selfone se klank is afgestel. Mense word ook aangemoedig om eerder teksboodskappe te stuur as om te bel, ingeval selfone se luitone mense wat wegkruip se posisie kan verklap.
Alhoewel die polisie dit nog nie amptelik bevestig het nie, word daar wyd berig dat een skieter reeds dood is.
"Ek raai dat die aanvaller doodgeskiet is," het Brian gesê. Maar die kampus word nog steeds deur die polisie, en nou ook die FBI, beset. Daar word ook doodseker gemaak daar skuil nie nog 'n gewapende persoon iewers nie.
Daar is nog nie uitsluitsel of dit 'n enkeling is wat uit eie inisiatief die aanval geloods het en of dit 'n terreur-geïnspireerde aanval is nie. Intussen is alle afritte na die kampus ook gesluit.

Daar is pas bekend gemaak dat die kampus vir die res van die dag gesluit sal wees. Geen klasse sal vir die res van die dag aangebied word nie.