Die eindtyd is hier!

So glo sekere Suid-Afrikaners ná die aardbewing wat Suid-Afrika gister, 5 Augustus, getref het.

Die skudding, waarvan die middelpunt op Orkney in Noordwes was, is omstreeks halfeen die middag in groot dele van die land gevoel. Dit het 5,5 op die Richterskaal gemeet.

Naskokke kon in groot dele van Noordwes, Gauteng, Vrystaat, KwaZulu-Natal en selfs Botswana en Mosambiek gevoel word.

Intussen het verskeie mense op sosiale media uitgevaar en gesê dié aardbewing is ’n teken die eindtyd kom nader, soos dit volgens hulle in die Bybel voorspel word.

“Dit is ’n teken van tyd; die Woord van God sê julle sal gerugte kry van oorloë, hongersnood en aardbewings. God waarsku: Ruk jul lewe reg. Die einde van die wêreld is baie nader as wat ons gedink het!” het Chantelle Kruger gesê.

Mariana van Wyngaarden Wright het gesê die heldersiende Siener van Rensburg (1862-1926) het die aardbewing voorspel. “Dit is als tekens van die einde. Dis wat die Skrif ons leer. Net soos in Israel...”

Dié uitgesproke gebruiker wat die eindtyd op sosiale media verkondig, het onder fel kritiek deurgeloop.

“Daar is gemiddeld 500 000 aardbewings elke jaar wêreldwyd, al vir baie jare. Net omdat daar nou een hier was, is almal doemprofete?” wou Michél Smith weet.

Ronel Barcellos meen die bobbejaan word met hierdie uitsprake behoorlik agter die berg gehaal.

“Ag, Vader! Los tog die ‘tekens van die tyd’ ... dis so overrated,” het Elbie Cilliers Orffer gesê.

Al loop tallose plekke wêreldwyd onder aardbewings deur, glo die meeste gebruikers blykbaar dit was nie blote toeval dat dit hierdie keer Suid-Afrika se beurt was nie.

- Joanie Bergh