As jy graag ’n baba wil hê, lê die geheim dalk in jou rokgrootte!

Navorsers aan die Harvard-universiteit se skool vir openbare gesondheid het onlangs onthul vroue wat sowat 5 kg afgeskud het, het sowat twee weke vinniger swanger geraak as dié wat nie gewig verloor nie, berig die Daily Mail.

Die navorsers het 1 950 vroue tussen 19 en 40 ondersoek.

Volgens hul bevindinge het vroue wat gewig verloor het binne twee en ’n half maande swanger geraak, terwyl die ander eers ná drie maande of langer swanger geraak het. Dit is selfs van toepassing op vroue wat reeds slank is en nie gewig hoef te verloor nie.

Navorsers moet nog bepaal presies hoekom die gewigsverlies bevrugting help, maar hulle vermoed eiers van ’n hoër gehalte word vervaardig en die baarmoeder se voering is vrugbaarder wanneer die vrou gewig verloor.

Die studie is voorgelê by die Amerikaanse vereniging vir reproduktiewe medisyne se jaarlikse byeenkoms, wat onlangs in Hawaii gehou is.

Bronne: IOL, Daily Mail

Probeer jy swanger raak? Kyk na hierdie wenke.