Maak gereed vir 'n riller-komedie wat jou tone sal laat krul deur die bekende rolprentvervaardiger Koos Roets.

Lizz Meiring, wat die rol van Bonnie van der Byl vertolk, vertel: “Die karakters is uniek en Hoener met die Rooi Skoene is oorspronklik en magies; net so fassinerend en eksentriek soos die onontdekte juweel van 'n dorpie waar ons verfilm het: Klaarstroom, weggesteek in die Klein-Karoo.”

Bonnie is 'n ontvangsdame van die wêreldbekende De Waal-teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig voortklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz).

Sy tref hom aan met 'n dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar en skakel dan die polisie. Maar by nadere aanskoue van die bloeiende baas, word sy soos altyd flou. Toe sy met die flitslig van konst. Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skoonveld . . .

Hiermee is die tafel gedek vir 'n spannende, skreeusnaakse riller-komedie vol verrassende kinkels waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai, Napoleon, en die hoogs beneukte, geïrriteerde en grieperige speurder kapt. Hendrik Greyling (Louw Venter), sentraal staan.

Allerhande interessante geheimpies word uitgelap . . .

1. Cecilia de Waal (Dorette Potgieter), die aantreklike veel jonger vrou van die baas, het meer as een skelmpie.

2. Die ouer privaat sekretaresse Miss Enith Conradie (Lida Botha) is al jare lank verlief op die baas.

3. Die ligsinnige Roxie Roos (Laré Birk) is die baas se minder gewillige pretpoppie.

4. Die sjarmante Percy Celliers (Geon Nel) doen nie sy werk nie.

5. Harold Berrington-Smith (Flip Theron), die ouer klerk, is 'n "tail gunner".

Koos waarsku: “Dis nie 'n tipiese slapstick komedie nie. Niemand gooi iemand anders met 'n pastei nie. Die humor en snaakse insidente is toevallig. En die karakters eg – mense wat werklik kan bestaan.”

Sy laaste fliek was ’n Pawpaw vir My Darling.

Hoener met die Rooi Skoene sluit ook die verskyning van gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbyeword in en word op 27 Januarie 2017 landswyd uitgereik en versprei deur Ster Kinekor Entertainment.