SY IS funky, het ’n verhoognaam en hou van musiek.

En danksy Huisgenoot se Liedjieskryfkompetisie is Nikka deesdae goed op pad na ’n lewe in die kalklig. Hoe dan anders – haar wen-inskrywing het immers ’n trefferliedjie vir die superster Nicholis Louw geword.

‘‘Met Huisgenoot se Liedjieskryfkompetisie het ek nou presies bereik wat ek wou,’’ vertel Nikka (23) van Pretoria oor haar ervaring nadat sy verlede jaar die algehele wenner was met haar liedjie Baby Baby Baby.

En nie net het sy sodoende R30 000 losgeslaan nie; haar liedjie is boonop opgeneem op die Liedjieskryfwenners-CD wat saam met HGTempo se lente-uitgawe versprei is.

En dis ook op Nicholis se album Grootste Treffers Sover opgeneem. Jy kan ook soos Nikka ’n wenner wees . . .

Loop jy al maande met ’n heerlike wysie in jou kop wat jy self uitgedink het? Of het jy lirieke geskryf wat ’n treffer kan word?

Moet dan nie langer wag nie, want die bal is aan die rol vir Liedjieskryf 2011.

Verlede jaar het ons sowat 1 200 inskrywings ontvang, en benewens Nicholis het topkunstenaars soos Snotkop, Emo

Adams en Nianell die top-10 by ons Tempo-toekennings-glansaand uitgevoer.

Verlede jaar het die deelnemers ons beoordelaarspaneel met ’n verskeidenheid musiek trakteer – van grappige deuntjies oor twee boesempelle wat wil leeus jag tot aangrypende liefdesballades.

‘‘Verlede jaar se aanbod was uiteenlopend,’’ sê Heidi Edeling, sameroeper van die paneel.

‘‘Daar was disko-, pop-, rock- en folkliedjies.’’

En jy sal die liedjies herken: Emo se Tarantula, Andriëtte se Is Dit Jy? en natuurlik Snotkop se Bakgatboogie. Wat vanjaar se oes gaan oplewer, hang van jou af. En jy hoef g’n musiekgraad te hê om deel te neem nie. Allesbehalwe! Onder verlede jaar se top-10 was studente en dosente, bemarkers en selfs ’n boer!

Die kompetisie het twee bene: Benewens die musiek-en-liriekafdeling kan jy net lirieke inskryf, soos Dave Lubbe, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, verlede jaar gedoen het. En dit het hom ’n lekker kontantprys van

R10 000 besorg. Sy liedjie Wense is deur Nianell getoonset en gesing, en die nagtegaal sê sy kon Dave se lirieke binne sekondes toonset.

‘‘Die woorde het hul eie wysie gekies,’’ vertel sy.

Van die grootste name in die musiekwêreld sal weer die inskrywings beoordeel. En as jou liedjie hul aandag trek, sal jou talent beslis nie ongemerk verbygaan nie.

Dis mos nou meer as genoeg aansporing vir jou om dadelik aan die werk te spring.

KLIEK HIER om inskrywingsvorm af te laai (PDF-formaat)