Wonder bo wonder is niemand in die fratsongeluk beseer nie, al is die trok vernietig.

’n Kamera bo die instrumentepaneel van ’n polisiepatrolliemotor wat in die teenoorgestelde rigting as die trok gery het, het elke oomblik van die angswekkende gebeurtenis vasgelê.

’n Stewige sneeuneerslag op die dag het daartoe gelei dat die pad sowel as die treinspoor met ys en sneeu bedek was. Maar in dié stadium lyk dit nie asof die ongeluk aan gure weer te wyte was nie, maar eerder weens ’n tegniese fout wat veroorsaak het dat die waarskuwingsligte en versperrings nie die padverkeer teen die aanstormende trein gewaarsku het nie.

In die video ry die trok, ’n voorhaker met twee leunwaens, enkele oomblikke voor die impak stadig oor die treinspoor. Daar is geen rooi sinjale of ander aktiewe waarskuwingstekens te bespeur nie.

Toe die voorhaker reeds meer as halfpad oor die spoorlyn is, tref die trein die leunwaens met so ’n geweldige slag dat die drietal uiteenspat.

Selfs toe die trok soos ’n verdwaasde wese tot stilstand gly, is daar nog geen teken van ’n rooi sinjaal nie. Dié skop toe eers in nadat ’n voertuig ná die botsing oor die Woods-kruising ry.

Eers daarna maak die valhekke hul verskyning – met die trok en sy twee waens netjies aan weerskante van die treinspoor.

Intussen word berig dat Utah se vervoerdepartement die saak verder ondersoek om vas te stel of dit ’n tegniese of menslike fout was wat tot die skouspelagtige ongeluk gelei het.

Volgens berigte het die FrontRunner-passasierstrein weens die slegte weerstoestande teen ’n laer spoed as die spoedgrens gereis.

Die treindrywer is in kennis gestel van die probleme met die sinjale en veiligheidshekke en het glo die noodrem geaktiveer. Steeds was dit onmoontlik om die trein betyds tot stilstand te bring.

Die trokbestuurder het gesê hy was wel ook op die uitkyk vir naderende treine, maar die gure weer en sneeu het sy sig belemmer.

Meer oor die FrontRunner-treine

1. Die FrontRunner is amptelik op 23 Februarie 2007 in Utah bekendgestel as die eerste hoëspoedlokomotief wat in dié deelstaat aangewend sou word.

2. Vanaf April 2008 is die FrontRunner ingespan vir pendelaars tussen Salt Lake City en Ogden.

3. Hoewel die lokomotiewe ontwerp is om byna 147 km per uur te haal, word die spoedgrens in Utah op sowat 129 km per uur vasgestel.

4. Die lokomotief wek ’n indrukwekkende 3 600 perdekrag op en kan tot tien waens trek met 2 000 mense per trein.

Bronne: sltrib.com, fox13now.com, mailonline.co.uk