Toe die Italiaanse sierskaatser Valentina Marchei by die Olimpiese Winterspele op die ysskaatsbaan begin dans, het Italianers gebars van trots.

Maar dis eintlik die Suid-Afrikaanse vlag wat moes gewapper het, want sy het op die maat van die meesterlike Suid-Afrikaanse kitaarduo en Huisgenoot-Skouspel-gunstelinge CH2 se kitaarmusiek gedans.

“Ons het geen benul gehad sy gaan ons musiek gebruik nie,” sê Leon Gropp, een helfte van die duo.

“Dit was ’n groot verrassing,” voeg sy kollega, Corneille Hutten-Burger, by.

Die twee vertel grootoog ’n vriendin het hulle ingelig van hul “optrede” tydens die Winterspele in Sotsji, Rusland, en dat Valentina se afrigter hul musiek op die internet ontdek het; toe Valentina dit hoor, was dit “presies waarna sy op soek was vir Sotsji 2014”.

“Ons het dadelik hoendervel gekry toe ons dit op YouTube kyk,” vertel Corneille. “Dis fantasties om te dink ons musiek is by die Olimpiese Winterspele gehoor.”

“Corneille het selfs ’n traantjie gepink,” sê Leon laggend.

Nagenoeg 100 miljoen TV-kykers het die Olimpiese Winterspele gevolg, en die twee beskryf die blootstelling as “ongelooflik”. Hulle het reeds met Valentina kontak gemaak en ’n gesamentlike optrede gereël.

Hoewel Valentina eindelik derde gekom het in haar ronde, kon sy nie genoeg punte verdien om die Italiaanse vroue-sierskaatsspan ’n gesamentlik medalje te help wen nie.

– Christiaan Boonzaier

Kyk die video hier: