Stefan Visser (29) is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy skoonma, past. Elsabé van Niekerk (55).

Dit volg nadat hy haar verlede jaar op 11 April aangeval en 31 keer met ’n mes gesteek het. Hy het Woensdag (19 April) in die hooggeregshof in Pretoria skuldig gepleit op die moordklag.

Past. Elsabé se dogter, Leandri Visser (30), het gister in die hof getuig dat die dood op haar ma die gesin finansieel en emosioneel uitmekaar geskeur het.

Leandri het vroeër die week gesê dat dit glad nie ’n maklike jaar vir hulle was nie. “Dis asof ons elke dag daardie dag herleef. Dit is seer,” het sy aan Huisgenoot.com gesê.