Die pragtige blonde vrou hou seuntjie met ewe ligte hare in haar arms vas.

[caption id="attachment_138867" align="alignnone" width="432"]Elrize Maree by klein Reghard Ferreira Elrize Maree by klein Reghard Ferreira[/caption]

Elrize het 21 jaar gelede as lewenslustige meisie in Huisgenoot verskyn nadat dokters in ’n baanbrekersoperasie vir haar ’n regteroor uit die kraakbeen van haar pa, Louis, se ribbebeen gekerf het. Hoewel haar liggaam dié oortjie eindelik verwerp het en sy die lewe sonder een moes aandurf, wil sy vandag as finalis in die Mev. Rustenburg-wedstryd graag haar reis voltooi deur Reghard te help en hom ’n kans te gee om sy gehoor te verbeter en dalk selfs ’n oortjie te kry.

Elrize onthou immers alte goed hoe maats haar kleintyd op die speelterrein gespot het.

“Hulle noem haar ‘Ou Oortjie’”, lui die opskrif in Huisgenoot van 23 November 1995 oor dié spottery. Haar pa was selfs bereid om een van sy eie ore, wat ná ’n ongeluk doof gelaat is, vir sy dogter te skenk.

[caption id="attachment_138872" align="alignnone" width="576"]Só het Huisgenoot destyds oor Elrize Maree (néé van der Merwe) as klein meisie berig. Só het Huisgenoot destyds oor Elrize Maree (néé van der Merwe) as klein meisie berig.[/caption]

Hulle sou eers later jare uitvind sy is vermoedelik met die seldsame sindroom Goldenhar-sindroom gebore. Dit is ’n aangebore afwyking wat gekenmerk word deur die onvolledige ontwikkeling van die oor, neus, sagte verhemelte en lippe. Maar soos met Reghard, kon nooit vasgestel word of dit spesifiek die sindroom is wat tot die afwykings gelei het nie.

Dokters het destyds gemaan Elrize, wie se kakebeen onderontwikkel was, sal nooit ordentlik kan praat of selfs op skool aan sport deelneem nie. Vandag is haar spraak heeltemal normaal en het sy op skool in netbal uitgeblink.

“Ek moes maar net leer om daarmee saam te leef,” vertel sy oor die uitdagings. Sy vertel destyds was daar baie minder opsies en het haar ouers haar modelwerk laat doen.

Sy is vandag met Heinie getroud en het twee jong kinders, Hendré (4) en Elmoré (1).

“Ek sal graag wil hê dat Reghard in homself groei en ook nooit aan homself en sy eie vermoëns twyfel nie,” vertel Elrize.

Maar nes Elrize, is klein Reghard se ouers, Gerhard en Beaulah, wat albei in die mynwese werk, van plan om geen steen onaangeraak te laat om hul vegtertjie te help om ook ’n normale lewe, met ’n oortjie en beter gehoor, te hê nie.

[caption id="attachment_138873" align="alignnone" width="600"]Klein Reghard is soos Elrize sonder 'n regteroortjie gebore. Hy het ook 'n haaslippie en gesplete verhemelte gehad wat reeds herstel is. Klein Reghard is soos Elrize sonder 'n regteroortjie gebore. Hy het ook 'n haaslippie en gesplete verhemelte gehad wat reeds herstel is.[/caption]

Gerhard vertel Reghard het op vyf en sewe maande al twee operasie ontvang om sy haaslip en gesplete verhemelte te herstel. Hy het ook ’n spesiale proefband om die kop begin dra om hom met sy balans te help.

“Ons het toe hy begin loop, agtergekom dit lyk heeltyd asof hy van balans af is. Die band help hom nou daarmee.”

Die sogenaamde Baha-band word gebruik vir kinders wat nog te klein is om so ’n groot operasie te ondergaan. Hulle sal egter ’n band teen R48 000 moet bestel wat hy kan dra tot hy op vier jaar die eerste binneoor-operasie, dalk ’n koglêere inplanting, te ondergaan. Hy sal eers op 10 jaar die oorskulp soos Elrize kan kry omdat sy beendigtheid nog nie gereed is nie.

“Reghard is baie klein vir sy ouderdom,” vertel Gerhard oor sy seun wat op 35 weke vroeggebore is en nog sukkel om te praat.

Hy vertel omdat hy nog so jonk is, weet Reghard nog nie te veel van sy toestand nie. Sy sussie, Bianca (4), is ook baie erg oor haar boetie en speel asof niks skort nie.

“Hulle is baie lief vir mekaar,” vertel Gerhard.

Elrize-hulle hou Vrydag ’n gholfdag op die Pebble Rock-landgoed in Pretoria vir die eerste geldinsameling wat Reghard in die toekoms kan help, ook met spraak- en arbeidsterapie.

Enigiemand wat wil help, kan aan haar skryf by maree.elrize@gmail.com.