Twee skoolmeisies van die Amerikaanse deelstaat Wisconsin word daarvan beskuldig dat hulle ’n vriendin na ’n woud gelok en 19 keer met ’n mes gesteek het om ’n fiktiewe internetkarakter se guns te wen.

Die twee 12-jarigs is aanhangers van Slender Man, ’n kuberkarakter wat mense en veral kinders in talle aanlyn verhale afloer, ontvoer of teister.

Hy word beskryf as ’n lang, maer, gesiglose man wat ’n swart pak dra.

Die twee het na bewering hul vriendin probeer doodmaak sodat hulle die Slender Man se guns kon wen en “agente” kon raak wat namens hom mag optree.

Weens die koelbloedige en voorbedagte aard van die misdaad, word hulle as volwassenes van eerstegraadse poging tot moord aangekla. Hulle word in ’n korrektiewe sentrum vir jeugmisdadigers aangehou.

Luidens berigte het die twee die moord van Februarie vanjaar af beplan, en sou aanvanklik hul vriendin vir ’n oorslaappartytjie nooi en haar in haar slaap of in ’n badkamer vermoor. Hulle sou daarna wegloop na Slender Man se herehuis.

Hulle het besluit om haar liewer na ’n park te neem, maar kon hulself nie sover kry om haar daar dood te maak nie en het haar na ’n woud geneem onder die voorwendsel dat hulle wegkruipertjie gaan speel.

Die meisies het haar om die beurt met die mes gesteek, voor een oorgeneem en haar herhaaldelik gesteek het.

Die slagoffer het tot in die pad gekruip, waar ’n fietsryer op haar afgekom het.

Sy is in ’n stabiele toestand in ’n hospitaal, waar sy aansterk.

Luidens berigte kan die twee beskuldigdes se gesinne nie die borgtog van R5,37 miljoen bekostig nie en gaan die twee na verwagtinge binnekort sielkundige evaluering ondergaan.

- Mieke Vlok

Bron: Huffington Post, NZ Herald.