Mariana Walker (69) was die afgelope 16 jaar ’n geliefde onderwyseres en koorafrigter aan die Alvin Junior-hoërskool in Texas.

Luidens berigte was haar klaskamer altyd ’n veilige hawe vir kinders, selfs al was hulle nie in haar klasgroep nie.

Toe word kanker by haar gediagnoseer. En die siekte neem haar liggaam so oor dat sy verlede jaar moes ophou met dit wat haar inspireer het: haar leerders en die vreugde van hul sang.

Uit plasings op haar Facebookblad laat dit geen twyfel oor haar toewyding nie. Haar inskrywing by dié foto: "Hulle weet waar om my te kry: Ek sal hulle nooit ooit laat gaan nie."

Sowat twee weke gelede het haar toestand so versleg dat sy deur die hospies na haar huis gestuur is waar sy wou sterf.

Toe haar gewese leerders dit uitvind, was daar net een manier waarop hulle haar wou vertel hoeveel sy vir hulle beteken het -- hulle het haar immers as hul mentor, leerkrag en vriendin beskou. En hulle het dit deur hul stemme gedoen.

Ongeveer 20 oudleerders het op die grasperk voor haar huis byeengekom. Mariana se dogter, Alyx Vesey, het seker gemaak haar ma se kamervenster en die voordeur is oop sodat sy die boodskap van haar leerders se liefde kon hoor.

Twaalf minute nadat die koor vir haar gesing het, het Mariana gesterf, in alle waarskynlikheid gekoester deur die sang van al haar “kinders”.

Bronne: people.com, cnn.com, compassionateatl.com