’n Uitveër, gom, pen, potloodsakkie, liniaal en skêr is van die noodsaaklikhede in enige leerder se skoolsak aan die begin van die jaar.

Maar Dinsdagoggend is ’n negejarige seuntjie gevang toe hy ’n inkopiemandjie vol van dié soort items by ’n supermark in Verulam, noord van Durban, wou gaps. Sy broer (14) het dopgehou terwyl hy die items van die rakke afgehaal het.

Die twee, van Redcliffe in Verulam, het nie geweet ’n lid van Reaction Unit SA (Rusa) hou hulle dop nie. “Toe die veiligeheidswag hom konfronteer, het die seun erken sy ouer broer het hom gedwing om die items te steel,” het Prem Balram, Rusa-woordvoerder, gesê.

Nog skryfbehoeftes van ’n ander supermark in die gebied is ook in hul besit gevind toe die seuns deursoek word, sê hy.

Die seuns het erken hulle het die items geneem en gesê hulle wou skryfbehoeftes kry voor die skool Woensdag heropen.

Prem weet nie of hul ouers nie vir hulle skryfbehoeftes gekoop het nie, of die broers dalk die geld daarvoor op ander goed uitgegee het en of hulle die skryfbehoeftes aan medeleerders wou verkoop nie.

Hul ouer broer is ’n bekende gesig vir Prem en die polisie in Verulam. Hy het gesê dis teleurstellend dat dié 18-jarige sy jongste broer leer steel het.

Bestuur van die winkel was simpatiek en het besluit om geen regstappe te doen nie, het Prem gesê. Al die gesteelde items is aan die twee winkels terugbesorg.

Prem het gesê die seuns se ouers het al moed opgegee om hul seuns te probeer oortuig om hul misdadige streke te laat staan.

Bron: News24