Johannesburg -

"Ons betreur die ongelukkige voorval waarby Graad 7-leerders van ons skool betrokke was,” het LA Haupt, die skoolhoof, Vrydagaand op die Facebook-blad van die Laerskool Randfontein geskryf.

"Die voorval is opgeneem en in die media versprei. Al die betrokkenes is geïdentifiseer en dissiplinêre verhore is reeds vir volgende week beplan.

"U kan verseker wees dat die veiligheid van elke kind ons hoogste prioriteit is, en dat die nodige stappe teen die skuldige partye geneem sal word.“

Die gemeenskapskoerant, Rekord, het berig dat die Graad 7-seun se tante die video op YouTube geplaas het.

Op die video kan gesien word hoe die seun deur 'n ander een na die skool se speelterrein gelok word waar hy deur 'n groep seuns aangeval word. Ander seuns probeer blykbaar om hom te help, maar een van die boelies skreeu herhaaldelik: "Los! Nee ... los!"

Die slagoffer krimp ineen op die grond en probeer om sy kop met sy hande te beskerm, terwyl sy aanvallers hul tevredenheid uiter. Toe hy probeer opstaan en wegloop, word hy weer teruggehou en met die vuis geslaan.

Dit lyk asof van die ander seuns weer probeer inspring om te help, en toe skree die boelie: "julle moenie inspring nie" en later waarsku hy weer: "niemand moet f*kken inspring (om te help) nie".

Teen Sondagmiddag is die skoolhoof se bywerkingsberig op Facebook reeds meer as 60 keer gedeel, en dosyne mense het kommentaar gelewer – volgens een van hulle is die video na ander lande gestuur. Een van die kommentare het gelui dat van die skool se leerlingraad toegekyk het hoe die afknouery plaasvind.

Verlede week het 'n ander video oor geweld by 'n skool tevoorskyn gekom – ook in Randfontein, wes van Johannesburg – maar dit was van die Sekondêre Skool Randfontein, en daarop kan gesien word hoe 'n onderwyser 'n Graad 9-leerder met 'n leergordel staan, het EWN berig.

WAARSKUWING: Die video bevat lelike taalgebruik en ontstellende beeldmateriaal.

Bron: News24